Nigel se Tuiste vir Bejaardes vier 50 jaar
Die tuiste het van krag tot krag gegaan in 50 jaar.
Nigel se Tuiste vir Bejaardes het op 17 Februarie 50 jaar oud geword en dié spesiale geleentheid is op 25 Maart gevier.
“Die 50 jaar is ‘n besonderse mylpaal waarvoor ons as bestuur baie dankbaar is,” het Pieter Smit, huidige bestuurder van die tuiste, gesê.

“Dit is werklikwaar 50 jaar van genade. Ons grootste dank gaan aan die Hemelse Vader, wat daagliks aan elke behoefte voorsien en op soveel maniere en op verskillende terreine leiding gee en mense in staat stel on Sy wil uit te voer.”
Die hoeksteen is op 17 Februarie, 1973, ingewy.
Daarna het die bou van die tuiste in erns begin. Van twee rye kamertjies in die begin het die tuiste gegroei tot waar dit vandag staan.

Tans is daar sowat 200 voltydse inwoners en daar is ook gespesialiseerde versorging vir dié wat dit benodig. Daar is nagenoeg 77 inwoners in die versorgingseenheid.
Ria Alberts, wat vir 27 jaar by die tuiste gewerk het, het ‘n terug blik oor haar betrokkenheid gegee.
“Wees lief vir mekaar en waardeer mekaar,” het Alberts gesê.

“Tyd is iets wat so vining verbygaan. Geniet jou tyd saam met jou vriende en familie so veel as wat jy kan.”
“Ek sien die tuiste as ‘n Kieriekoshuis,” het Mercia Combrink, ‘n voormalige bestuurder tydens die vieringe, gesê.
“Ek het daarin geglo om die mense waarna ons omgesien het te behandel asof dit jou eie familie is. Die lewe is ‘n lied. Ons almal dans op die maat daarvan.”

“Die tuiste is wat die inwoners daarvan maak,” het Ina Hogewoning, nog ‘n voormalige bestuurder van die tuiste, tydens haar spreekbeurt gesê.
“Waardeer wat julle het, en geniet elke oomblik.”

“Geluk vir die mylpaal wat bereik is,” het ds Chris Engelbrecht, wat ook voorheen ‘n bestuurder was, tydens sy gelukwensing gesê. “Van die tyd dat ek hier was tot nou toe, het daar al soveel vooruitgang by die tuiste plaasgevind. Mag dit ‘n veilige hawe wees vir almal wat versorging benodig.”

Smit het afgesluit om te sê dat dit is met groot opgewondenheid wat hulle vorentoe kyk na die volgende hoofstuk in die tuiste se toekoms. “Ons sien uit na die taak wat voorlê. Opregte dank aan my voorgangers wat met visie, geloof en deursetting ‘n plek tot stand gebring het waarop ons vandag baie trots kan wees.

“Mag menige bejaarde in die jare vorentoe ‘n gelukkige en vreugdevolle heenkome hier vind.”
Na afloop van die formaliteite is ‘n koek wat deur Boxer Supermark geskenk was, gesny en het die gaste en inwoners ‘n braai geniet.




