Local news

Leer ons mense ken: Ilze Willemse

Ilze Willemse woon al sowat sewe maande in Nigel en wil 'n verskil in die dorp maak.

Ilze Willemse (47) het onlangs na Nigel verhuis en is verloof aan Hennie Marais. Sy werk as ‘n konsultant in die eiendomsbesigheid en is ook veral bekend vir haar betrokkenheid by die Skoon Nigel groep.

• Hoe lank woon jy al in Nigel en wat is jou indruk van die dorp?

Ek woon al vir sowat sewe maande in die dorp. Dit is vir my ‘n baie vriendelike en rustige dorp.

• Van waar af kom jy oorspronklik?

Ek het voorheen in Rustenburg in die Noord-Wes gewoon.

• Het jy daar groot geword, indien nie, waar het jy groot geword en skool gegaan?

Ek is in Klerksdorp gebore en het my Laerskool loopbaan by Driefonteine Laer in Stilfontein voltooi. Daarna is ek na Hoërskool Klerksdorp en het aan die einde van Standerd Agt (Graad 10) verhuis na Rustenburg waar ek gematrikuleer het aan die Hoërskool Rustenburg.

• Wat staan vir jou uit van die Nigel gemeenskap?

Die mense van Nigel is verskriklik vriendelik en baie behulpsaam.

• Hoekom het jy besluit om die Skoon Nigel groep te begin?

Ek het gesit en kyk hoe Rustenburg agter uit gaan maar daar was die mense nie so oulik en gewillig nie. Een dag in Desember het ons hier verby die Kingsway parkie gery en daar was twee kinders op die swaaie, die gras was so lank mens kon net hulle koppies sien en ek het daar en dan besluit die dorpie gaan nie so verwaarloos word nie. Ek sal aangaan met die projek totdat ek nie meer kan nie.

• Wat beoog jy om met die groep te bereik?

Ek sal graag wil hê dat ons ‘Dorp van die Jaar’ moet wen en ek weet ons kan dit doen.

• Waar hou jy graag vakansie?

Ek is lief vir die Oos Kaap, veral vir Jeffreysbaai.

• Wat was die beste raad wat jy nog ontvang het?

My ouma het altyd gesê ‘n mens behandel ander soos jy graag self behandel wil word.

• Wat is jou stokperdjies?

Ek het plakboekwerk gedoen maar deesdae het ek nie meer tyd nie.

• As u een ding kan verander in die lewe, wat sal dit wees?

Mense se gesindheid teenoor mekaar, vandag wil jou medemens nie sommer meer die son oor jou sien skyn nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button