Local news

Veterane sit steeds skouer aan die wiel

Eenheid Suikerbos het oor die afgelope tyd verskeie projekte aangepak.

Eenheid Suikerbos se Veterane Vereniging is besig om van krag tot krag te gaan.

Sedert die stigtingsvergadering in Januarie het die ledetal van die vereniging goed toegeneem.

Die groeipersentasie is ‘n stewige 32% en die vereniging is tans besig om al hulle lede op die Departement van Militêre Veterane databasis te registreer.

Gedurende die afgelope ses maande het Eenheid Suikerbos ook by verskeie gemeenskapsprojekte betrokke geraak.

Een van die groot suksesverhale is ‘n rolstoelprojek waar daar tot dusver 32 gestremde persone gehelp is met die skenking van rolstoele, looprame en krukke.

“‘n Gestremde persoon is net so gestremd as wat die gemeenskap hom of haar toelaat,” sê Frik van Niekerk, Eenheid Suikerbos se voorsitter.

“Soveel van ons mense lei ‘n normale lewe totdat daar iets gebeur wat die persoon se vryheid van beweging inperk en dikwels word die persoon ‘n gevangene in hul eie huis en selfs bed.

“Deur ‘n apparaat te ontvang, word hulle lewens verander en kan hulle weer tot ‘n mate ‘n redelike normale lewe lei.

“Nie almal kan ‘n mediese fonds bekostig nie. Eenheid Suikerbos kry skenkings van rolstoele uit die gemeenskap en ongeag die toestand daarvan word dit herstel om aan persone wat dit benodig te skenk.”

Nog ‘n projek waarby Eenheid Suikerbos betrokke is, is die veiligheid van Heidelberg en hul gemeenskap.

“Ons lede is betrokke by die GPF waar ons radio en patrolliediens verrig.

“Die SAWV is ook betrokke by gereelde vergaderings met die polisie,” sê van Niekerk.

Eenheid Suikerbos dra ook die erfenis en geskiedenis van Heidelberg na aan die hart.

“Ons erfenis moet oorgedra word aan ons jeug sodat dit vir die nageslag behoue kan bly,” vertel Van Niekerk verder.

“Ons was ook in staat om skenkings te maak aan instansies soos die Heidelberg Heritage Association.

Daar was ook van Suikerbos se bestuurslede wat by ‘n byeboerdery kursus in Midrand gaan kers opsteek het.

Eenheid Suikerbos beplan om hul eie amateur byeboerdery teen die einde van Julie op die been te bring.
Skenkings om hierdie projek van die grond af te kry is reeds ontvang.

“Ons wil graag hoor van byeboere in die area om te help met die projek.

Flip Minnaar (GPF) en Frik van Niekerk bou voort om ‘n goeie verhouding.

“Indien ons sukses met die boerdery behaal kan dit werkskepping bied,” het van Niekerk verduidelik.

“Ons wil ook die Heidelberg gemeenskap bedank vir die skenkings wat ons die afgelope paar maande ontvang het.

“Daar is vele inwoners en instansies wat skenkings aan ons maak en dit dra daartoe by dat ons die doel kan bereik om ander te help.

“Plaaslike jagters het wildsbokke geskenk, gemeenskapslede het onder andere rolstoele, sopmengsels, klere, skoene, komberse, geld en nog meer geskenk,” het van Niekerk gesê.

Persone wat meer inligting oor die bedrywighede van Eenheid Suikerbos se Veterane Vereniging wil bekom kan van Niekerk by 079 220 5555 kontak of vir Adjudant Offisier Werner van der Merwe by 062 760 7004 of die skakelpersoon Lydia Botha by 071 438 3002.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button