Local newsSport

Volkie langasem haal provinsiale span

Vanaf sewejarige ouderdom is Christian al lief vir hardloop.

Christian Smuts, ‘n Graad 12 leerder aan die Hoër Volkskool is beslis ‘n atleet met uithouvermoë en ‘n lang asem.

Hy het op 17 Februarie tydens Volkskool Interhoër eerste plek in die 3 000m en ‘n tweede plek in die 1 500m behaal en was ook aangewys as senior middel- en langafstand atleet van die byeenkoms.

Vanaf sewejarige ouderdom is Christian al lief vir hardloop.

By Laerskool Tini Vorster het hy uitgeblink met sy atletiek sowel as landloop, maar sy werklike prestasies het begin toe sy paaie met dié van André Engelbrecht gekruis het, wat hom vir die afgelope vyf jaar in die lang- en middel afstande afrig.

“Dit was nie ’n maklike pad nie.

“Desember skoolvakansies oefen Christian terwyl die res van sy maats vakansie hou. Daar was baie op- en afdraandes, om nie te praat oor al die opofferings wat André sowel as Christian gemaak het nie,” het sy ma, Annemarie vertel. Sy het bygevoeg dat die aandeel wat afrigter André in Christian se emosionele groei en ontwikkeling gehad het, moeilik is om te beskryf.

“Wanneer ons as sy ouers raadop was met die effek wat atletiek emosioneel op Christian gehad het, kon André hom altyd raadgee en aanmoedig,” het sy vertel.

Christian Smuts by sy afrigter, André Engelbrecht.

Christian het nie altyd eerste in elke wedloop gekom nie, en dit was vir sy ouers bemoedigend om te sien hoe trots sy afrigter steeds op hom is.

“Vir André gaan dit daaroor dat elke kind net sy beste moet gee en nie oor die posisie wat die kind behaal het nie,” het Annamarie gesê.

Christian het die vorige week aan die Groter Heidelberg byeenkoms deelgeneem waar hy ‘n eerste plek in die 1 500m sowel as die 5 000m behaal het. Hy het hiermee gekwalifiseer om aan die D7-Distrik byeenkoms in Sasolburg mee te ding vir die provinsiale span. Die byeenkoms het op 23 Februarie plaasgevind.

Daar het hy weer uitstekend gevaar en met twee eerste plekke in die 1 500m asook die 3 000m weggestap en hiermee gekwalifiseer vir die Gauteng byeenkoms wat in Germiston sal plaasvind.

“Ons sal ouers aanraai om hulle kinders aan te moedig om aan sport deel te neem.

“Dit leer kinders die waarde van opoffering, spanwerk en ontwikkel deursettingsvermoë. Dit leer hulle ook dat hulle nie altyd die beste in alles kan wees nie en hoe om teleurstellings te oorkom.

“Die heel grootste les is dat wat jy insit, jy altyd sal uitkry; met rente,” het Annamarie trots vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button