Local news

Prontuit: Die Heraut gesels met Francois Furstenburg

Francois het ‘n groot liefde vir Afrikaans. Hy skryf gedigte vandat hy 12 jaar oud was en het al oor die 500 gedigte geskryf. Hy spog met ‘n versameling van 3 500 boeke.

Die Heraut leer ons mense ken en het hierdie week met Francois Furstenburg (88) gesels wat reeds vanaf 2012 betrokke is by die ATKV Heidelberg-tak.

Oom Francois, soos almal hom ken, is gebore in Bloemfontein en vertel dat beide sy oupas in die vryheidsoorlog geveg het.

Francois se droom was om predikant te word maar die Grieks en Hebreus was letterlik te ‘Grieks’ vir hom en hy het die teologie studies laat vaar.

In 1954 was hy op die ouderdom van 20 al die posmeester van ‘n eenman poskantoor.

In 1965 het by ‘n korttermyn versekeringsmaatskappy begin werk en sedert 1979 as ‘n makelaar, totdat hy in 2009 uitgetree het.

“Ek het tussen 5 000 en 6 000 testamente opgestel in daardie tyd en was ook vir twee jaar die streekskampioen met die beste produksiesyfers,” het hy vertel.

Hy het onder andere in Potchefstroom, Krugersdorp en bykans 50 jaar in Florida gebly en het ‘n baie interessante lewe gehad tydens sy beroep as makelaar.

“Van my kliënte, wat meeste by die SAUK gewerk het, was onder andere Verna Vels van Liewe Heksie, Louise Smit, Fanie Smit, Chris Swanepoel, Jan Schutte, Daleen Kotze en Nic de Jager.

“Ek het ook die voorreg gehad om Sonja Herholdt en Brumilda van Rensburg te ontmoet,” vertel hy.

Sy lewe het ‘n paar uitdagende draaie gemaak en hy het vertel dat hy op 14-jarige ouderdom amper verdrink het.
Hy was ook ‘n slagoffer van ‘n gewapende roof, is al vir 14 jaar skoon na ‘n kankerstryd, moes ‘n rugoperasie ondergaan en het ook herstel na Covid-19.

“My geloof is vir my die primêre belangrikste aspek en ek poog om dit daagliks uit te leef,” het hy vertel.

Ander staaltjies wat hy oor sy lewe vertel het is dat hy saam met voormalige president van Suid-Afrika, FW de Klerk op skool was, in 1949 die inwyding van die Voortrekker Monument bygewoon het, Dr HF Verwoerd se begrafnis bygewoon het asook die inhuldiging van CR Swart as Staatspresiden, wat vêrlangs familie is.

Francois het ‘n groot liefde vir Afrikaans. Hy skryf gedigte vandat hy 12 jaar oud was en het al oor die 600 gedigte geskryf asook stalle verhale.

Hy het ‘n versameling van 3 500 boeke. Hy het ook al sy eie boek gepubliseer en is tans besig met sy tweede boek Allegaartjie wat hopelik volgende jaar sal verskyn.

Die toneelstuk ‘n Vrou vir neef Piet wat hy geskryf het, is ook iets waarop hy baie trots is.

Francois se eerste kar was ‘n Auto Union 1 000 waarmee hy met slegs sowat R15 vir petrol vanaf Johannesburg na Kaapstad toe gery het.

“My eerste salaris was R38 per maand en om R15 te betaal het vir petrol daardie tyd was baie,” het hy vertel.
Francois was vir agt jaar ‘n alleenloper nadat sy eerste huwelik verbrokkel het.

In 1983 het hy met Anelia getrou en die paartjie sal vanjaar hul 41ste huweliksherdenking vier.

Hy is ook ‘n heel bekwame rolbalspeler en speel twee keer per week.

Tussen Francois en Anelia het hulle ses kinders – vyf dogters en een seun. Een van hul dogters is in 2013 oorlede na ‘n stryd met kolonkanker en in 2014 is nog ‘n dogter oorlede aan ‘n hartaanval. Albei was op die ouderdom van 46 oorlede.

Francois en Anelia het 13 kleinkinders en 7 agterkleinkinders.

“Ons is geseënd om saam met een van ons kinders, Gerhard en Aneleen op hul gasteplaas te woon waar ons ons agterkleinkinders sien groot word.” het hy vertel.

Op 88 is hy gesond en steeds aan die stuur van die ATKV Heidelberg-tak.

“Afrikaans is my taal en ek geniet elke oomblik van al my take wat voorsitterskap van my verwag,” het hy mee afgesluit voordat hy ‘n slukkie van sy gunsteling lemmetjie-geur melkskommel geneem het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button