Local news

Heidelberger is pampoenkoning

“Die goliat pampoen benodig baie son, water en versorging

Aspoestertjie het na die bal gery in ‘n koets wat haar feetjie-peetma van ‘n pampoen gemaak het.

’n Sprokie ja, maar vir Cornelius Bester van Rensburg, Heidelberg, is die sprokie nie so ‘n onwerklikheid nie.

Sy pampoen wat hy Bella genoem het is met ‘n gewig van 730kg, wat baie na aan die gewig van ‘n klein motor of karavaan is, bekroon as die wenner tydens Goliat van Gat se jaarlikse Pampoenfees.

Dié fees het op 16 Maart in Pretoria plaasgevind.

Cornelius wys die mannetjie en wyfie plantjies wat hy self bestuif wannneer die tyd reg is.

Cornelius het vertel dat die naam Bella van die liedjie Voshaarnooi afkom wat in sy kop gespeel het vanaf 20 September 2023 toe hy begin het om die pampoen se saailinge te versorg.

Die reuse pampoene word jaarliks by die fees ten toon gestel en ingeweeg om die grootste pampoen te bepaal.
Cornelius het voor die kompetisie met trots sy Bella aan die Heraut gewys terwyl hy die hele proses verduidelik het.

“Die geheim is in die pitte. Dit vat ongeveer 170 dae van pit tot oes,” het hy vertel en verduidelik dat die natuur se proses om voort te plant eintlik heel eenvoudig is.

Cornelius Bester is aangewys as die goliat pampoen kwerker van die jaar.

“Daar is ‘n manlike plant en ‘n vroulike plant,” het hy vertel en gesê dat hy op 5 Desember toe die manlike en vroulike saailinge reg was, die bestuiwings proses self gedoen het.

“Dit was nog altyd ‘n stokperdjie en ‘n passie vir my en ek het al vorige goliat pampoene geplant maar was die jaar besonder positief omdat Bella by die dag net groter en groter gegroei het,” het hy vertel.

Bella was met baie liefde en deernis behandel en Cornelius het elke oggend vroeg met sonopkoms sy koffie saam met Bella geniet terwyl hy gekyk het hoe die son oor haar skyn.

Die goliat pampoen benodig baie son, water en versorging en hy het nie geskroom om vir haar die beste versorging te gee nie.

Dit was omtrent ‘n roses om Bella, die goliat pampoen na Pretoria toe te vervoer vir die kompetisie.

Selfs in die droogste dae, moes Cornelius planne maak om te sorg dat sy Bella nie afgeskeep word nie.

Sy is met nette beskerm en elke aand toegegooi om haar warm te hou en teen goggas te beskerm.

Bella se “ma” waar die wyfie pitte van oorsprong is, was in 2023 die wenner met ‘n gewig van 890kg.

Haar “oupa” aan die mannetjie pit se kant was ook al die SA rekordhouer.

Sy goliat pampoen wat hy in 2023 ingeskryf het, het 428kg geweeg en die jaar het hy met trots as wenner weg gestap met sy Bella wat 730kg geweeg het.

Cornelius Bester by sy goliat pampoen ‘Bella’ wat met ‘n gewig van 730kg as die wenner by die jaarlikse Pampoenfees aangewys is.

Bella moes met baie moeite en ‘n paar MacGyver- metodes, soos Cornelius dit beskryf het, uit haar nes by sy huis in Rensburg op ‘n dubbel-as sleepwa vervoer word na Pretoria.

Die fees is `n jaarlikse instelling waarheen al die grootste en mooiste pampoene gebring word om pryse te wen.

Die Atlantiese reuse pampoen was geteel deur die Kanadese pampoenteler Howard Dill. Hy het verskeie variëteite pampoene in Windsor, Nova Scotia, gekweek en is die pampoen koning genoem nadat sy vroegste basters gewen het by die Internasionale Pampoenvereniging se afweeg in 1979.

Dill het toe die Atlantic Giant-sade in 1979 gepatenteer. Sedert 1979 word die pitte wêreldwyd gesog.

“Ek is tevrede met die gewig wat Bella ingeweeg het. Ek het gehoop op 750kg maar Bella het my beïndruk en my baie trots gemaak om haar ten toon te stel.

Die goliat pampoene wat by die Goliat van Gat se jaarlikse Pampoenfees ingeskryf was.

As alles uitwerk soos dit moet, sal ek weer die proses begin en moontlik weer inskryf vir 2025,” het Cornelius vertel na sy oorwinning.

Bella is ‘n hele 300kg swaarder as sy vorige inskrywing.

Die goliat pampoen is nouwel nie so gewild om te eet nie, maar is verseker eetbaar en ryk aan voedingswaarde.

Nadat Bella met trots gepronk het met haar lywige gewig, sal sy haar deel vir die gemeenskap doen en opgesny word om na verskeie sopkombuise gestuur word waar kinders en behoeftiges gevoed word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button