Petri ryg die eerste plekke in, derde op wêreld ranglys
Die talentvolle atleet woon saam met sy gesin op ‘n plaas net buite Nigel.

Petri Stoltz, ‘n leerder aan die Hoërskool John Vorster het op 17-jarige ouderdom reeds ‘n magdom sukses behaal met hoogspring, maar 2024 is vir die onderhoofseun van sport ‘n besonderse jaar.
Petri het tot dusvêr vanjaar slegs eerste plekke behaal.
Hy woon saam met sy gesin op ‘n plaas net buite Nigel en geniet veral die wintervakansies wanneer hy op die plaas kan help mielies oes.
Petri het vanaf Graad Vier presteer in velditems en vertel dat sy pa, Cassie op sy dag ook aan hoogspring deelgeneem het.
“Ek het alle velditems geniet, maar het uitgeblink in hoogspring en het tot my eie verbasing, die skole SAs in Graad Vier gewen,” het Petri vertel.
In 2023 het hy begin om aan Klub SAs deel te neem saam met die Skole SAs.
“Dit het my goeie ondervinding gebied en die geleentheid gegee om meer deel te neem aan goed georganiseerde byeenkomste,” het hy gesê.

In 2023 het hy ‘n tweede plek behaal op nasionale vlak by ASA (Athletics South Africa, Klub SAs) in die o18 ouderdomsgroep met ‘n sprong van 2m en by die skole SAs in Germiston het hy koning gekraai met ‘n eerste plek sprong van 2,02m.
“Hierdie jaar is tot dusvêr vir my ‘n hoogtepunt aangesien ek nog net eerste plekke behaal het,” vertel Petri en noem dat hy sy persoonlike beste by die Grand Prix 1 byeenkoms in Potchefstroom op 14de Maart gespring het met ‘n 2,10m sprong.
Dié sprong het hom ook derde op die wêreld ranglys geplaas in sy ouderdomsgroep.
Hy vertel dat hy baie vertroue in sy afrigter, VanRhyn Swann het.
“Sy pa, Oom Arther, het my aanvanklik afgerig maar is ongelukkig oorlede.
“Ek het baie respek gehad vir Oom Arther. Hy het ‘n ding gesê soos, ‘Niks doekies omdraai nie’.
“Ek en VanRhyn ken mekaar nog net ‘n halwe seisoen maar werk lekker saam,” het Petri vertel.
Hy noem ook dat hy moet tyd maak tussen skoolwerk, onderhoofseun pligte en hope huiswerk om tyd in te ruim om te oefen.
Hy oefen een keer per week saam met sy afrigter aan tegniek en verder moet hy self fokus op fiksheid.
“Hoogspring is ‘n gawe wat ek ontvang het. Ek was altyd skraal, maar dit kan ook in my gene wees aangesien my pa self ook op skool hooggespring het,” het hy vertel.

Sy doelwit vorentoe sê hy is maklik, “Spring altyd hoër en die res sal volg”.
Die volgende byeenkoms is die skole SAs wat vanaf 3 tot 6 April in die Paarl sal plaasvind.
“Ek sal graag hier weer ‘n 2.10m wil spring maar elke dag en byeenkoms is verskillend, so ek vat dit soos dit kom en doen my beste,” het hy vertel.
Behalwe vir hoogspring is van Petri se ander gunstelinge IGO tekeninge, skaaptjops en blatjang sous.
Petri is gevra hoe dit voel om letterlik die hoogtepunt te bereik deur sy doel te bemagtig en het geantwoord, “Ek dink die geheim is om jou doelwit beter as die vorige een te stel en altyd beter te spring as die vorige byeenkoms.
“Dit bly moeilik omdat daar baie faktore is wat ‘n rol speel. Die belangrikste is maar hoe jy spring in jou kop. Is jy reg om die kompetisiedruk te kan hanteer. Ek is verlig as ek beter spring want dit beteken daar is vordering.”
Sy boodskap aan ander hoogspring atlete is, “Kry ‘n mikpunt en werk daarvoor. As jy dit bereik het, stel jou mikpunt hoër,” het hy afgesluit.