Local news

Prontuit: Oud-Volkie bied hulp vir entrepreneurs

EnablU maak entrepreneurskap moontlik vir enigiemand met ’n droom en toegang tot die internet, ongeag hul agtergrond, eerste taal of besigheidskennis.

Die Heraut het oud-Volkie leerling Mia Scheepers (née Roos) en 2006 dux leerder van die jaar raakgeloop en gesels oor die verskil wat sy in mense se lewens maak.

Mia is nou 36, bly in die Kaap en is getroud met Laurie.

Die lig in hul lewe, is Luka, hul driejarige seuntjie.

Naas haar aanwysing in haar matriekjaar as dux leerder, was sy ook onder die top 10 in die Sedibeng-Oos distrik vir akademie en deel van die Orpheum Koor wat in 2005 ‘n nasionale tweede prys behaal het.

Sy het ‘n beurs by Sasol gekry en bedryfsingenieurswese gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.
Daar was sy deel van Lydia dameskoshuis se huiskomitee en het in 2010 graad gevang.

“Na universiteit het ek by Sasol gaan werk en alles gedoen wat ‘n jong ingenieur doen,” vertel sy.

“Van rondgaan in die jaarlikse `shutdown’ om seker te maak die industriële asblikke word leeggemaak tot om multi-miljoen rand projekte bestuur,” het sy vertel.

Mia het besluit om tyd af te neem en van haar stokperdjies te beoefen.

Sy het geleer brood bak en Kaapstad se natuurskoon met haar twee Ierse terriers, Ella en Einstein verken.

“Ek het die ander liefde van my lewe ontmoet, my man Laurie, en ons het ons in die Kaap gevestig,” het Mia gesê.

Sy het onder andere vir Amazon gewerk en is baie trots daarop dat sy ‘n projek bestuur het tydens Covid-19 wat werksgeleenthede geskep het vir sowat 3 000 mense in Suid-Afrika.

“Ons president, Cyril Ramaphosa, het daarna verwys in een van sy ramptoestand toesprake om uit te wys dat daar hoop is vir Suid-Afrikaners te midde die krisis,” het sy vertel.

Sy is tans besig met met haar eie projek genaamd EnablU.

“EnablU is ‘n entrepreneurskap mentor wat vir jou verniet, en in jou eie taal besigheidsraad gee,” het sy verduidelik.

“Dit help jou vanaf die punt waar jy ‘n besigheidsidee nodig het tot met gevorderde besigheidsraad.”

“In die hart van Kaapstad, sien ek daagliks mense uit alle lewenssfere.

“Ek probeer so dikwels as moontlik met sommige van die mense in ons buurt kontak maak.

“Die resultaat is dat ek weet daar is ’n ware behoefte in ons land vir ’n bietjie hulp.

“Daar is ook ongelooflike, eerlike, hardwerkende mense oral en dit is baie verhelderend wat jy hoor wanneer jy die tyd neem om regtig te ondersoek en ’n paar vrae te vra,” het Mia vertel. Sy sê die meerderheid mense het praktiese hulp nodig en nie ’n R2 of oordeel nie.

“Ek het myself dikwels gevra hoe ons deel van die oplossing kan wees, en nie die probleem nie.

“Dit het my verwar, bedroef, en soms gefrustreer.”

In Oktober 2023 het Mia begin netwerk en saam met haar man en hul netwerkspan besluit om die uitdaging aan te pak.

“Ons almal ken mense wat ’n besigheid wil begin, hul besigheid wil laat groei, ’n goeie idee het, of net eenvoudig wil werk maar nie ’n werk kan vind nie.

“Saam het ons die professionele vaardighede gehad om sommige van hulle te help.

“Ons het ook gedink as elkeen ’n bietjie hiervan kon doen, kan dit dalk begin om die werkloosheidskrisis te help,” het sy verduidelik.

Die idee het vinnig ’n lewe van sy eie aangeneem en uiteindelik gelei tot die skepping van EnablU en het geboorte gegee aan Enbo.

EnablU maak entrepreneurskap moontlik vir enigiemand met ’n droom en toegang tot die internet, ongeag hul agtergrond, eerste taal of besigheidskennis.

Enbo is ‘n aanlyn chatbod wat persoonlike ondersteuning bied vir die begin, beplanning, en groei van jou besigheid of ‘side-hussle’.

Die diens is gratis beskikbaar aan enigiemand. Mia wil haar professionele vaardighede toepas om soveel as moontlik mense in Suid-Afrika te ondersteun met hulle drome.

“Werkloosheid en moedeloosheid is ‘n groot probleem in Suid-Afrika, ek wil graag help,” het sy gesê.

Haar droom is dat oor tien jaar elke Suid-Afrikaner wat ‘n droom het om ‘n entrepreneur te wees Enbo sal gebruik en om praktiese raad te gee en deel te wees van die oplossing in ‘n land met baie probleme.

Mia se ouers, Martin en Hanna woon steeds in Heidelberg en Mia en haar gesin kom kuier gereeld.

“Heidelberg bly steeds deel van my hart en ek geniet die kalmte en vars lug.

“My grootste passie in die lewe is mense. Dit begin by my wonderlike gesin en familie en vriende, maar uiteindelik is daar soveel te leer by elke mens wat jy teëkom en dit is vir my baie lekker om persoonlik met mense te skakel,” het sy vertel.

Mia se stokperdjies is om kennis op te doen deur baie te lees. Sy beskryf haarself as ‘n groot ‘nerd’.

Sy geniet ook pottebakkery, kosmaak en liedjies skryf en sing saam met haar man. Naas die verskil wat sy in die land wil maak, glo sy aan balans en maak tyd om elke dag daar te wees vir haar familie, haar man en hul krulkop seuntjie.

Mia se boodskap is dat almal ‘n verskil kan maak, al begin dit klein.

“Daar is altyd iets wat iemand kan doen en deur die regte netwerke en ‘n bietjie moeite kan ons saambou aan ‘n mooi toekoms vir ons kinders,” het sy mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button