Local news

Nigel model gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig in Amerika

Carisa Botes is reeds besig met planne vir haar liefdadigheidsprojekte vir die bejaardes, kinderhuise en dierebeskermingsverenigings.

Carisa Botes (19) van Nigel is gekies om Suid-Afrika volgende jaar in Amerika by Pageant America te verteenwoordig.

Dit is ‘n internasionale kompetisie wat jaarliks in Amerika gehou word, waartydens verskillende lande se skoonhede bymekaarkom en meeding om die kroon.

Carisa het op ‘n jong ouderdom met modelwerk begin.

Sy het egter in Graad Sewe opgehou toe die huiswerk, skoolaktiwiteite en akademie vir haar prioriteit was.
In 2023 het sy weer begin en by Suné Bothma se modelskool in Dunnottar aangesluit.

Carisa werk vir die afgelope jaar as ‘n persoonlike assistent by ‘n onderneming in Heidelberg.

Carisa Botes is op 6 April tydens ‘n kompetisie verkies om Suid-Afrika in Amerika te verteenwoordig.

Dit is haar eerste werk na skool en sy vertel hoe haar bestuurder en kollegas haar modelloopbaan ondersteun.
Carisa het sedert die begin van die jaar in verskeie kompetisies deelgeneem en uitstekend gevaar.

“Ek het gekies om modelwerk te doen omdat dit ‘n mense se selfvertroue opbou, jou leer hoe om in groepe te werk en dat dit nie altyd gaan oor wen of verloor nie,” het Carisa vertel.

“Ek het dit nog altyd geniet om mooi aan te trek en behalwe vir die postuur en voetwerk wat ons leer, leer jy ook om jou eie identiteit te skep,” het sy gesê.

Tydens ‘n onlangse kompetisie is Carisa tot haar eie verbasing aangewys as die model met die meeste potensiaal en deur twee modelkenners van C & C Academy, Charmaine en Chantelle Swart gekies om Suid-Afrika in 2025 in Amerika in die kategorie 19 plus te verteenwoordig.

“Carisa is ‘n baie mooi jong dame, wat ‘n goeie hart het. Sy is passievol in haar modelwerk en haar droom het waar geword toe die aankondiging gemaak is dat sy Suid-Afrika in Amerika kan verteenwoordig,” het Suné Bothma vertel.

Carisa Botes het verskeie kompetisies wat voorlê voordat sy Suid-Afrika in 2025 in Amerika gaan verteenwoordig.

“Carisa was raakgesien deur haar unieke styl wat uitgestaan het en ons glo dit is beslis dié styl wat haar oorsee ‘n wenner kan maak,” het Charmaine Swart gesê. Voor Carisa haar tasse kan pak vir Amerika, is daar nog heelwat kompetisies wat vir haar voorlê.

Sy sal in Junie deelneem aan die High Fashion kompetisie. Miss Royal Star Supreme en Miss Springs lê ook nog voor.

Carisa se hart is nie net by skoonheid nie en sy is reeds besig met planne vir haar liefdadigheidsprojekte vir die bejaardes, kinderhuise en dierebeskermingsverenigings.

Sy het ook groot planne vir haar toekoms en haar vyf-jaar plan is om haar eie modelskool oop te maak.

“Ek wil jong meisies leer dat hulle mag droom en dat hul drome kan waar word,” het sy gesê.

Carisa Botes is tuis op die loopplank.

“Ek het dit glad nie verwag om vir Amerika gekies te word nie en was baie verbaas. Dit het my meer geïnspireer om my drome waar te maak en ek sien uit om tussen nou en wanneer ek vertrek baie ondervinding op te doen om seker te wees dat ek Suid-Afrika sal trots maak,” het Carisa vertel.

Enigiemand wat die jong skoonheid wil ondersteun in haar liefdadigheidsprojekte, kan haar by 073 538 4645 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button