Vrou met hart van goud help waar sy kan
“Ons glo dat kinders nie hul situasie kies nie en dat kinders, kinders moet bly. As ‘n kind wat deel is van die gesinne waarvoor ons sorg, verjaar, sorg ons vir ‘n geskenkie en ‘n koek en oor kersfees, hou os ‘n kersboom vir die kinders,”
Zandunay’s Angels is een van daardie plekke waarvan nie veel mense weet nie, maar wat ‘n groot verskil maak in die gemeenskap.
Rienie Botha en haar suster Lizette Steyn van Rensburg in Heidelberg sien vir die afgelope 11 jaar om na behoeftige gesinne en veral kinders in hul omgewing.
Rienie se liefdadigheidswerk kom van haar eie lewenservaring af waar sy self moes sukkel om net basiese behoeftes soos kos, klere en toiletware te kon bekom.
“Ek weet hoe dit voel om te sukkel en doen alles in my vermoë om ander wat sukkel te help,” het Rienie vertel.
Zandunay’s Angels se naam is afkomstig van die tweeling wat Rienie en haar man aangeneem het se name, Jeandunay en Lizandrie.
Rienie werk halfdag en as sy teen 14:00 by die huis kom, begin sy om skenkings van kos, klere, speelgoed en huisware uit te sorteer om dit eweredig te deel tussen al die behoeftige gesinne.
Sy sorg nie net vir gesinne in Rensburg nie, maar ook in Villiers.
“Mense besef nie die nood wat onder die gemeenskap is nie,” het sy vertel.
Zandunay’s Angels sorg tans vir kospakkies vir 23 gesinne per week en maak staat op skenkings van die gemeenskap en met lootjies wat hulle verkoop.
“Ons glo dat kinders nie hul situasie kies nie en dat kinders, kinders moet bly.
“Wanneer ‘n kind, wat deel is van die gesinne waarvoor ons sorg, verjaar sorg ons vir ‘n geskenkie en ‘n koek en oor Kersfees, hou ons ‘n kersboom vir die kinders,” het Rienie vertel.
Die Kersgeskenke word deur die jaar versamel deur skenkings van bruikbare speelgoed wat hulle ontvang.
“As daar byvoorbeeld ’n sagte teddiebeertjie is wat stukkend is, maak ons dit reg, was dit en probeer dit weer na nuut lyk,” het Liza Steyn, Rienie se ma, wat haar dogter bystaan met haar liefdeswerk, vertel.
“Ons fokus is op babas, kleuters en laerskool kinders. Daar is ’n groot nood in Rensburg waarvan mense nie altyd weet nie, maar ons kan nie vir almal voorsien nie aangesien ons nie genoeg fondse het of skenkings kry nie,” het Rienie vertel.
Sy het ook genoem van die mense wat by haar huis aanklop vir een teesakkie en ’n lepeltjie suiker net sodat hulle ’n koppie warm tee met suiker kan drink na ’n lang dag se werk.
“Dit is hartverskeurend om mense weg te wys en ons probeer regtig om te help sovêr ons kan, maar ons het hulp nodig van die gemeenskap,” het sy gesê.
Die nodigste items wat Zandunay’s Angels benodig is baba-produkte soos melk en doeke, klere, bruikbare speelgoed, warm komberse en klere, enige huisware of meubels en natuurlik groente en nie-bederfbare items.
Mense wat betrokke wil raak of Rienie wil help in haar liefdes-taak vir die gemeenskap kan haar kontak by 073 656 6343 of Lizette Steyn by 072 120 5436.