Prontuit: Raak betrokke en reik uit sê Ronel
Sy raai elke vrou, oud of jonk, aan om by die VLU aan te sluit.

Die Heraut leer ons mense ken en het die voorreg gehad om hierdie week met Ronel Lombaard, streekoorsitter van VLU Goudrif streek te gesels.
Ronel (64) is reeds vir die afgelope 19 jaar betrokke by die Vroue Landbou Unie (VLU).
Sy was vir 13 jaar die voorsitter in Nigel en is tans die streekvoorsitter van die Goudrif streek.
Haar nuuskierigheid het haar een oggend by ‘n VLU tak vergadering in Nigel laat inloer waar hulle by die biblioteek vergader het.
Sy het die volgende maand aangesluit en nog nooit teruggekyk nie.
Ronel het grootgeword in Nigel; is getroud met Johan. Hulle het twee kinders en twee kleinseuns.
Sy het met trots vertel dat haar jongste kleinseun tans die derde geslag is wat by John Vorster skool gaan.
Dit is ook waar sy en haar kinders hul hoërskool loopbane voltooi het.
Ronel geniet elke oomblik van haar betrokkenheid by die VLU.
“Die VLU is ‘n ongelooflike organisasie; een van die oudstes in die land. Die organisasie bemagtig vroue met kennis, fotografie vaardighede, skryfkuns, bak en brou, hekel, borduur, naaldwerk en selfs opleiding met rekenaars,” het sy vertel en ook genoem van die opheffingswerk wat die organisasie in hul gemeenskappe doen.
In haar vrye tyd bring sy graag tyd deur met haar familie en haar stokperdjies hang af van wat die VLU vir die jaar beplan.
Ronel se gunsteling vakansie is by die wildtuin of by die see en sy geniet egte boerekos soos skaapboud, geel rys, pampoenkoekies en warm dadel-lemoenpoeding.
Ronel het vertel een van mees interessante dinge wat met haar gebeur het was om saam met haar man te vlieg in sy klein ligte vliegtuig.
“Afhangende van die weer, was die vlug soms baie stresvol,” het sy gesê.
Ronel sal ook graag eendag op ‘n bootreis wil gaan maar vir nou is haar voete stewig op die grond en dien sy met trots as streekvoorsitter van die VLU Goudrif streek.
Sy raai elke vrou, oud of jonk, aan om by die VLU aan te sluit.
“Daar maak jy wonderlike vriendinne wat later vir jou ‘n groot steunpilaar in jou lewe word,” het sy gesê.
Haar boodskap aan die gemeenskap is om betrokke te raak.
“Raak betrokke in jou gemeenskap, reik uit na ander wat minder as jy het. Dit is soveel lekkerder om te gee as om te ontvang.
“Sit ‘n glimlag terug op elke vuil gesiggie met ‘n eet- of drinkding en wees goed vir ons aarde en die troeteldiere.”