Prontuit: Wees die verskil wat harte laat vlamvat, sê Roché
Die Heraut leer ons mense ken en het dié week met Roché Pepler (37) gesels.
Sy het in 2018 haar besigheid Earth Owl met slegs R250 begin.
Roché se passie lê by mense, diere en die natuur, maar veral om ‘n betekenisvolle verskil te kan maak in haar onmiddelike omgewing. Sy is enkellopend en is die trotse ma is van drie honde en ‘n varkie.
Sy het grootgeword en skoolgegaan in Nigel en ploeg terug in die gemeenskap waarvoor sy so lief is.
“My werk voel nie soos werk nie. Elke dag is ‘n nuwe uitdaging en iets nuuts om na uit te sien.
“Dit is vir my ‘n voorreg om elke dag wakker te word, ‘n saad te plant en te sien hoe dit groei.
“My werk is soos ‘n metafoor van die lewe, wat jy insit sal jy uit kry. Om elke dag met ‘n doel in my hart te werk is die rede hoekom ek asemhaal,” het sy vertel.
Roché se lewe is interessant. Sy laat nie ‘n geleentheid verbygaan nie en is altyd reg vir uitdagings.
Sy was haar lewe lank ‘n leier gewees – of dit nou op skool was of in haar beroep. Sy het modelwerk gedoen, was derde in Suid-Afrika vir judo, het haar graad in bemarking, skakelwese en besigheidsbestuur voltooi, het oorsee getoer en in sepies gespeel as ‘n agtergrond akteur.
Sy het vir ‘n ruk aan die Weskus gewoon in ‘n klein 200-jaar oue skoolhuis op ‘n plaas naby Grotto Baai en vertel dit was daar, in haar nederige bestaan, waar sy haarself gevind het.
“My troeteldiere was arende, uile en kraaie en ek het in die oggende wakker geword met die geblêr van skape om my.
“Ek het baie primitief gewoon, my wasgoed met die hand gewas en op die plaashek gehang, vuur gemaak in die winter om warm te bly, het elke dag 10km op die strand gaan stap en die sonsondergang bewonder.
“Ek het musiek gespeel en die lekkerste kos gemaak met min bestanddele.
“Ek het amper elke dag skaap geëet, dat selfs die skaaphond moeg was om skaap te eet,” het sy vertel en bygevoeg dat dit ook die rustigste en diepste tydperk van haar lewe was.
“Hier het die droom van Earth Owl in my hart begin groei na baie stiltetyd met die Here. Dit was hier waar God met my begin praat het en my soveel kreatiewe idees begin gee het oor hoe om my besigheid te bou en waarop ek moet fokus.
“Ek het in 2018 teruggetrek Nigel toe en Earth Owl begin bou met slegs R 250,” het sy vertel.
Sy sê met Earth Owl leer sy ongelooflik baie van landbou tot mense.
Hulle het al in die vuilste plekke gaan skoonmaak, gehelp om skole te bou met bottels wat herwin was, meer as 1 000 bome geplant, fondsinsameling feeste gehou asook hande gevat met verskeie organisasies wat ‘n hart het vir hul medemens.
“Earth Owl was die beste ding wat die Here al ooit op my pad gesit het. Ek sien elke dag uit om op te staan, al is dit somtyds uitdagend, hou die belofte van Bo my gedrewe na ‘n ongelooflike lewensdoel,” het sy vertel.
In haar vrye tyd leer sy om snaarinstrumente te speel, gaan stap in die natuur, vang vis, bou legkaarte, skryf gedigte, doen kuns en eksperimenteer met interessante geregte solank daar rissies, knoffel en gemmer betrokke is.
Roché is ‘n avontuurlustige mens en wil graag nog die wêreld vol reis en op plekke gaan stap, swem of vanaf spring wat ‘n mens net op die televisie sien.
Sy voel die lewe is te kort om op een plek te bly en jy moet die lewe gaan proe en ervaar tot alles wat jy in staat is.
Iets wat mense nie van haar weet nie, is dat sy eintlik ‘n introvert is en dit geniet om te luister en van mense te leer.
Sy is ook baie lief om te sing en maak daagliks haar eie liedjies op. Haar boodskap vir die gemeenskap is mense moet leer om verby mekaar se verskille te kyk.
“Elkeen van ons is uniek en somtyds is ons almal maar vreemdelinge. Om jou medemens by te staan en vir iemand iets te beteken is die antwoord om ‘n goeie gemeenskap te bou.
“Dit is baie maklik om jou hand uit te steek en te vra, maar daag jouself uit, en gaan doen iets onverwags vir iemand anders sonder om iets terug te verwag.
“Inteendeel, maak dit ‘n punt in jou lewe om niks van mense te verwag nie, en jy sal nie teleurgesteld wees nie.
“Wees anders, klim uit jou boksie en gaan wees jy die verskil wat ander mense se harte laat vlamvat.
“Groet mekaar, al ken jy nie die persoon nie, glimlag vir mekaar al voel dit of jy wil huil, wees geduldig met mekaar al het jy ‘n week van hel en bo als vergewe mekaar want eendag moet ons almal vergewe word. In ‘n wêreld van soveel onsekerheid en haat, wees opreg en wees lief vir mekaar.
“Gun mekaar geluk en tel mekaar op,” het sy afgesluit.



