Local news

Ernest se pad met dwelmverslawing

Na ‘n jaar op CAT het dit nie meer dieselfde effek vir hom gehad nie, en het hy oorgegaan na kristal metamfetamien bekend as crystal meth.

Vryheidsdag, Werkersdag en Jeugdag het die jaar ‘n ander betekenis vir oud-Hoër Volkskool leerder, Ernest Volschenk (28).

Ernest is vir die afgelope 135 dae vry van dwelms nadat hy vir meer as 10 jaar verslaaf was aan dwelmmiddels en aanlyn speletjies.

Ernest was van kleins af baie lief vir sport en het in verskeie sportsoorte uitgeblink, maar veral in rugby.

In 2012 het hy as een van Volkies se rugbyspelers op die veld uitgedraf vir die Craven Week proewe. Met ‘n droom van ‘n sportloopbaan het hy, soos hy altyd gedoen het, sy alles gegee vir elke wedstryd, maar dié een was anders.

Na ‘n kort tydjie op die veld het hy tydens ‘n duikslag sy anterior, mediale kollaterale en posterior kruisligamente aan sy linker knie geskeur. Na ‘n pynlike operasie en weke in krukke was sy sportdroom verpletter.

“Ek was baie aktief en wou nooit by die huis wees nie. Sport was al waarin ek goed was en dit was my manier van ontsnap,” het Ernest vertel en bygevoeg dat sport sy identiteit was en omdat dit weggeneem was, het dit gevoel asof hy nêrens ingepas het nie.

In 2016 tydens ‘n kuier saam met vriende was hy vir die eerste keer aan metkatinoon, bekend as CAT, blootgestel.

“Ek wou ook ‘in’ wees en nie my vriende verloor nie en so het ek CAT begin gebruik,” het hy vertel. Na ‘n jaar op CAT het dit nie meer dieselfde effek vir hom gehad nie, en het hy oorgegaan na kristal metafetamien (bekend as crystal meth).

Ernest beskryf die gevoel wanneer hy crystal meth gebruik het, soos skoenlappers in jou maag wanneer jy na iets uitsien maar net ‘n duisend keer meer intenser.

“Elke keer as ek gebruik het, het ek kans gesien vir enigiets.

“Ek het gevoel ek is gefokus, vol energie en het ‘n wilskrag om enige iets aan te pak, maar as dit uit jou sisteem is, val jou gemoed baie erg,” het hy vertel en bygevoeg dat hy onbewustelik meer en meer begin gebruik het.

“Dit was soos ‘n jeuk wat ek nooit kon krap nie. My lewe het bestaan uit werk, gebruik crystal meth en speel Playstation,” het hy verduidelik. Ernest beskryf homself as ‘n funksionele gebruiker aangesien hy steeds gewerk het en vooruit gegaan het in sy werk en bygevoeg dat die dwelms hom energie gegee het om deurnag wakker te bly en te speel.

“Maar as dit uitwerk, verloor jy al jou energie en motivering vir die lewe en is jy te moeg om op te staan om te werk en slaap eerder die heeldag.”

Tydens die inperk periode in 2020, het Ernest sy werk verloor en erg depressief geword.

“Ek het ‘n baie goeie salaris verdien en my woonstel was ingerig met die beste speelstasie tegnologie om aanlyn deel te neem aan verskeie speletjies maar veral motor resies,” het hy gesê .

Hy het ook vertel dat hy meer moes gebruik om die energie te hê om deurnag wakker te bly vir sy aanlyn wedrenne.

Vanaf 2022 het hy daagliks crystal meth gebruik.

“Ek het my selfrespek verloor, myself daagliks verwyt en verhoudings met my familie verwoes en omdat ek so skuldig gevoel het, het ek net weer gebruik want dan kon ek ontsnap en energie kry om deurnag Playstation te speel,” het hy vertel.

Hy het verduidelik dat as jy verslaaf is, jy nie jouself kan bluf om te glo dat jy vir ewig kan aanhou nie en jy kom op ‘n punt waar jy weet jy kan nie meer nie.

“Die gevoel van ‘ek voel goed’ het verdwyn en my Playstation het nie meer vir my saak gemaak nie. Ek het my lus vir alles en my waardigheid verloor. Ek kon slegs sosiaal met mense verkeer en saam met my familie kuier as ek hoog was,” het hy vertel.

“Ek kon nie in ‘n verhouding bly nie en het mense vir wie ek lief is verloor.

“Ek was baie ongelukkig en baie depressief,” het Ernest gesê en vertel hoe hy op ‘n dag in Desember 2023 letterlik ingegee het en besef het hy moet hulp kry.

“Ek het my ma eerste vertel en dit het haar gebreek, daarna het ek die res van my familie vertel wat net so verbaas was.

“Ek was ‘n slim gebruiker en het mense laat glo ek rook net nou en dan dagga of is net moeg, maar ek kon mense nie meer flous nie. Ek moes net hulp kry,” het hy voortgegaan.

Met die hulp van sy ouers, is Ernest in ‘n rehabilitasie sentrum opgeneem waar hy vir 28 dae moes bly.

“Die eerste twee weke was hel. Ek het baie gehuil, baie gepraat met die maatskaplike werker en moes leer om myself te vergewe, maar die beste is dat ek geleer het dat dwelms my nie definieer nie,” het hy vertel.

Hy is vir die afgelope 135 dae skoon en elke dag is vir hom ‘n viering van sy eie vryheidsdag. Hy het vertel dat alhoewel hy nog ‘n introvert is, hy meer sosiaal kan verkeer.

Sy verhouding met sy familie is herstel want, het hy gesê, familie het jou liewer as wat jy dink.

“Ek is nie skaam om vandag my storie te deel nie en glo dit kan ander help. As ek dit kon maak om skoon te kom, kan enigeen.

“Die gat waarin jy is as jy verslaaf is, is nie so diep dat jy nie kan uitkom nie. Dit verg net ‘n gewilligheid en deursettingsvermoë,” het hy gesê.

Hy het ook vertel dat daar nog dae is wat hy die aanlyn wedrenne mis maar Playstation, vir hom, het hand aan hand gegaan met dwelms.

Hy hou hom nou besig met goed wat sy intellek verbeter. Hy lees boeke, verkeer meer sosiaal en is nie bang om homself alleen besig te hou nie.

Ernest se boodskap aan enige een wat aanklank vind by sy getuienis is:

“Wees dapper genoeg om vir hulp te vra. Daar is ‘n lewe en ‘n doel vir elkeen en jy kan suksesvol wees. Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is moontlik. Dwelms steel jou menswees en ek is besig om alles stukkie vir stukkie terug te kry.

“Ek vertrou op die Here se plan vir my lewe. Al is ek nog bang en baie onseker oor my toekoms, is ek dankbaar dat ek weer werk het en my toekoms kan bou sonder om afhanklik te wees van dwelms,” het Ernest afgesluit.

Vryheidsdag, Werkersdag en Jeugdag van 2024 sal altyd vir Ernest ‘n spesiale viering wees van lewe en oorlewing.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button