Local news

Heidelberg is finalis in Dorp van die Jaar

Heidelberg Hope en Skoon Heidelberg is besig om ‘n merkwaardige verskil aan te bring in Heidelberg.

Die dorp was op 12 en 13 Junie in rep en roer vir ‘n baie goeie rede.

Heidelberg is een van die Gauteng finalis dorpe in die Dorp van die Jaar kompetisie. Die produksiespan saam met Pieter Koen, aanbieder van die kykNETnet TV-program, Kwêla het Heidelberg besoek om eerstehands te kom kyk wat in Heidelberg aangaan.

Heidelberg is saam met Meyerton en Bronkhorstspruit in die streek wedloop vir die Gauteng en Noord-Wes Streek.

Die wen dorp gaan nie net met die titel van Dorp van die Jaar spog nie, maar gaan ook R1m in prysgeld, wat bemarking insluit, ontvang.

Pieter Koen en Bouwe Wiersma by die hoeksteen wat gelê was by die Heidelberg Erfenis Museum.

Van die plekke besoek deur die produksie span was die outisme sentrum in Rensburg, Heidelberg Erfenis Museum, Mediteriaanse Plaaswinkel, Riversands- en Suikerbos Aftreeoorde asook sekere glanslokale, verskeie skole, besighede en kerke.

Tydens die toer het hulle ook meer te wete gekom oor wat Heidelberg alles bied en was daar natuurlik klem gelê op die ryk geskiedenis van die dorp.

Pieter Koen het met verskeie mense in Heidelberg onderhoude gevoer terwyl die televisiespan alles op kamera vasgelê het vir die opname.

Die gemeenskap het fluks gehelp om skoon te maak by die Blesbokspruit.

Heidelberg Hope en Skoon Heidelberg wat alreeds die afgelope vier maande besig is met verskeie skoonmaak- en opknappingsprojekte in die dorp, het weereens saam met lede van die gemeenskap ingespring om dele van die dorp skoon te maak.

Die opkoms van vrywilligers om te help skoonmaak, het alle verwagtinge oortref en daar was vele mense van verskeie instansies in Heidelberg wat gehelp het om die dorp blinkskoon te kry voor die opnames.

Pieter Koen tydens die onderhoud.

Lesedi Gemeenskap Sentrum, Solidariteit Helpende Hand, plaaslike besighede en die gemeenskap, om net ’n paar te noem, het almal skouer aan die wiel gesit.

Die gebied in Ueckermannstraat wat langs die Blesbokspruit loop het prentjie-mooi daarna uitgesien nadat takke afgesaag was, stormwater pype weer oopgemaak was en meer as 60 sakke rommel opgetel was.

Hannes Snyman besig om ‘n stormwaterpyp skoon te maak.

Heidelberg Hope en Skoon Heidelberg is besig om ‘n merkwaardige verskil aan te bring in Heidelberg.

Paaie is al reg gemaak, padtekens is oorgeverf en sypaadjies is al verfraai.

Die gemeenskap se betrokkenheid is ook besig om te groei en dit is duidelik dat elkeen die dorp wil omskep na ‘n skoon Heidelberg wat besoekers kan lok en die dorp se ekonomie ‘n hupstoot kan gee.

Charlotte Cloete van Skoon Heidelberg het ook haar kant gebring.

“Ek hoop van harte ons kry die ja-woord vir Heidelberg,” het Bouwe Wiersma van die Heidelberg Erfenis Museum gesê.

“Ons kon nie iets groot doen toe Heidelberg 100 jaar en 150 jaar oud geword het nie. Om die Dorp van die Jaar te kan wees en ‘n groot gebeurtenis van dié geleentheid te maak sal vir Heidelberg en sy mense baie beteken,” het Wiersma bygevoeg.

Pieter Koen tydens ‘n onderhoud met Bouwe Wiersma.

Related Articles

Back to top button