VLU Nigel vroue reis deur Italië
Alet Maritz is gekies as die bes geklede dame. Maritz het ‘n ete vir twee gewen by Cappucinos, Heidelberg wat elke Maandag ‘n Italiaanse ete hou.
Lede van die VLU Nigel-tak het op 13 Junie deur Italië gereis. Alhoewel die reis nie letterlik was nie, het dit vir elke lid en gas gevoel asof hul in Italië is.
Die rooi tapyt is uitgerol en elkeen was geklee in jasse, stewels en hoede in eg-Italiaanse styl. Elsa Greyling, die gasvrou, het haar goed bekwaam van haar taak en sprekers genooi wat by haar tema kon aansluit.
Annetjie Lehman, het ‘n demonstrasie gedoen van hoe maklik dit is om tuisgemaakte pasta te maak en haar skoonseun, Albert Botha het sy persoonlike ervaring en reis deur die mooie dorpies van Italië gedeel.

Botha, ‘n regsgeleerde van Pretoria, het grootgeword en woon steeds in Nigel.
Hy het vir ‘n geruime tyd in Italië gewoon waar hy onder meer Latyns gestudeer het en die voorreg gehad het om verskeie dorpe en geskiedkundige plekke te besoek.
Hy het sy foto’s van die mooie land getoon en ‘n paar interessante staaltjies gedeel.
Sy boodskap aan die dames was: “Da somnia pennas aureas volare ad astra”,wat Latyns is vir: “Gee aan jou drome goue vlerke om te vlieg tot by die sterre.”

Almal teenwoordig was goed ingelig oor Italië, die land se uniekheid en geskiedenis. Omdat die VLU ‘n opvoedkundige organisasie is waarin vroue se kennis verbreed word, het Annamarie Axer, voorsitter, ook ‘n paar feite van die Berghaan (Bateleur) gegee.
Die Berghaan is Birdlife Suid-Afrika se 2024 voël van die jaar en volgens hulle word die voël as streeksbedreigd beskou, met ‘n geskatte bevolkingsvermindering van meer as 50% oor die afgelope 40 jaar. Dit laat ‘n streeksbevolkingsgrootte van minder as 1 000 volwasse individue.

Andrea Axer, professionele grimeerkunstenaar het ook vir die lede gewys hoe om maklik en vinnig te grimeer.
Alet Maritz is gekies as die bes geklede dame.
Daarna is behoorlik feesgevier in ‘klein Italië’ met eg Italiaanse peuselhappies, vars koffie, uitstallers en baie foto’s.
Om by die tak aan te sluit of vir meer inligting, kontak Elsa Greyling, die skakelbeampte, by 083 703 1763.





