Prontuit: Dissipline kweek waardes, vertel Nienaber
“Skole sonder dissipline kan nie behoorlik funksioneer nie en dissipline moet gedurig aangespreek word om te verseker dat dit onder beheer bly”.
Die Heraut leer ons mense ken en het die voorreg gehad om die week met Jan Nienaber, skoolhoof van Hoërskool John Vorster te gesels.
Jan (63) woon in Nigel vandat hy ses jaar oud was. Sy laerskool loopbaan was by Laerskool Tini Vorster voltooi en in 1978 het by Hoër Tegniese Skool Springs gematrikuleer. Liefde vir onderwys loop in die familie en drie van sy vier dogters is onderwysers en die vierde een ‘n bioloog.
Jan het studeer by Springs en Germiston Tegniese Kolleges asook by die Vaal Tegnikon en Noordwes Universiteit.
Hy was aanvanklik ‘n ambagsman as passer en draaier en kort nadat hy gekwalifiseer het, het hy die onderwys betree. Sy vakke wat hy aanbied is dus ook tegnies van aard waaronder meganika, tegniese tekeninge, wiskunde en fisiese wetenskap.
“Ek het ‘n passie gehad om kinders te leer en het dit baie geniet om veral die tegniese vak pas-en-draaiwerk te gee,” het Jan vertel en bygesê dat hy oor ‘n N6 wiskunde kwalifikasie beskik en met groot sukses wiskunde onderrig het.
“Ek het ‘n goeie werk in die ambag verruil vir die onderwys omdat dit my na aan die hart gelê het. Om met kinders te werk in die koninkryk van God was nog altyd vir my ‘n passie,” het hy vertel.
Jan is reeds 40 jaar in die onderwys en het ook gesê hy is nie ‘n enkele dag spyt dat hy die beroep betree het nie.
Hy is tans hoof van sy tweede skool nadat hy ook hoof was van Hoër Tegniese skool Rhodesfield in Kemptonpark voordat hy na Hoërskool John Vorster toe gekom het.
Volgens Jan is tale en wiskunde die belangrikste vakke vir elke kind – tale om te kommunikeer en wiskunde om dinge te kan verstaan en uit te redeneer.
“Met dié vakke in ‘n kind se verwysingsraamwerk kan hy of sy enige ander vak baasraak,” het hy gesê.
As dit by sport kom, lê sy passie by watersport. Hy het op sy dag provinsiale kleure in hengel verwerf.
Natuurlik is hy ook lief vir rugby en behalwe vir verskeie spanne wat hy afgerig het, was hy ook vir jare ’n Transvaalse rugbyskeidsregter in die eerste liga op klubvlak.
Jan se opinie oor dissipline in skole is dat dit ‘n groot rol speel in enige skool.
“Skole sonder dissipline kan nie behoorlik funksioneer nie en dissipline moet gedurig aangespreek word om te verseker dat dit onder beheer bly,” het hy vertel.
“Dissipline kweek waardestelsels. Waardes soos respek, trots, goeie selfbeeld en aanvaarding is die kernbeginsels in ‘n waardestelsel.”
Jan se boodskap aan leerders is kort en saaklik.
“Moet nie jou tyd mors in die skool nie. Jy kan tyd nooit terugkoop nie. Leer terwyl jy kan en moet nie ‘n enkele dag agter raak nie. Jy sal verlore tyd nooit opvang nie. Leerders wat hard werk behaal sukses en sukses gee jou baie selfvertroue om die lewe met ‘n drafstap aan te pak.”
Jan glo dat elke kind daarna moet streef om sy of haar ouers trots te maak aangesien dit die enigste manier is waarop kinders hul ouers kan vergoed vir die opofferinge wat ouers vir hul kinders maak.
“Bly na aan jou Skepper en glo dat God jou sal bystaan om jou ideale te verwesenlik,” het hy afgesluit.




