Dylan Bothma se familie soek steeds antwoorde
Die uitsending van Dylan se storie op Carte Blanche het kykers geskok en boodskappe van teleurstelling oor die verloop van die ondersoek en simpatie teenoor die familie het op sosiale media platforms ontplof.

Die rou hartseer en frustrasie van die mense naby aan Dylan Bothma (17) en die tergende vrae wat daar na sy dood in 2023 ontstaan het, is Sondagaand weer uitgelig in ‘n episode van Carte Blanche.
Die Heraut het verlede jaar in Junie berig van die voorval wat die lewe van die jong lewenslustige Dylan geëis het (Ongeluk eis ons `sonskynkind’).
In ‘n opvolg berig vanjaar op 23 Februarie is daar berig oor hoe ouers die dood van hul kinders verwerk. (Ouers praat oor die dood van hul kinders).
Elsie Bothma was een van die ouers met wie daar ‘n onderhoud gevoer was en wat sukkel om, nie net die dood van hul seun Dylan te verwerk nie, maar na ‘n jaar steeds nie duidelikheid het oor wat presies met hom gebeur het nie.
Dylan is op 25 Junie 2023 oorlede nadat hy die aand van 24 Junie by ‘n 16de verjaarsdag partytjie was.
Elsie het tydens die onderhoud in Februarie aan die HERAUT gesê dat mens nie die werklikheid van die skokkende nuus dadelik besef nie en jy bid aanhoudend met die hoop dat dit nie waar is nie.
“Jou hele liggaam voel letterlik siek en jy sal enigiets op daardie stadium doen om plekke te kan ruil,” het sy tydens die onderhoud gesê.
Sy het ook bygevoeg dat sy daardie dag oor en oor beleef.

Die oorsake wat gelei het tot Dylan se dood is na ‘n jaar steeds nie duidelik nie.
Die Bothma familie het die afgelope jaar hul eie ondersoeke gedoen wat gelei het tot verskeie leidrade wat aan die polisie oorhandig is.
Tot dusver is daar steeds geen duidelike antwoorde nie en die familie het hulle tot Carte Blanche se ondersoek span gewend.
Die hartverskeurende verhaal van Dylan was op 14 Julie op Carte Blanche uitgesaai.
Die volgende inligting is tydens die uitsending bekend gemaak.
Dylan was by die partytjie afgelaai om 17:30 waar daar ongeveer 30 jongmense was.
Volgens van die ooggetuies wat na vore gekom het, is daar vir die minderjarige kinders dagga-koekies en alkohol gegee. Dylan het blykbaar op ‘n stoel gaan sit en die stoel het gebreek.
Volgens getuienisse het die eienaar van die huis waar die partytjie plaasgevind het, Dylan in die gesig geslaan, waarna hy geval het.
Volgens van sy maats, het Dylan met ‘n bebloede gesig die partytjie te voet verlaat, maar sy baadjie en selfoon daar vergeet.
Hy het dit gaan haal en met sy terugkeer by die partytjie was hy vermoedelik deur ‘n groep jong mans aangerand.
Hy het weg gehardloop maar ‘n motorfiets en ‘n bakkie het om agterna gesit en moontlik opgelaai.
Volgens ‘n ooggetuie het ‘n wit bakkie uit ‘n grondpad vanaf AG Visserstraat opgedraai en teen die R23 gestop.
Daar was blykbaar ‘n bakleiery agter op die bakkie en volgens die getuie het ‘n jong seun, vermoedelik Dylan, van die bakkie afgespring en oor die R23 gehardloop, waarna ander insittendes van die bakkie afgespring en agter hom aan gehardloop het.
‘n Tweede getuie het gesien hoe ‘n jong man wat terug hardloop oor die R23 getref is deur ‘n insleepdiens bakkie.
Volgens die getuie het die insleepdiens bakkie weggejaag en die seun het in die pad gelê.

Die getuie het ook gesien hoe die persone wat hom gejaag het om hom gestaan het voordat almal daar weg is.
Dieselfde getuie het ook genoem dat die motorfiets kringe om die seun gery het en daarna saam met die bakkie daar weg is.
Dit is later bevestig dat dit Dylan was wat in die pad gelê het.
Die R23 pad waar hy gelê het, is baie donker en ‘n tweede voertuig is ‘n paar minute daarna verby en het oor Dylan gery.
Hy was ‘n ent lank onder die voertuig gesleep voordat die bestuurder besef het iets is fout en gestop het.
Die nooddienste was gekontak. Dylan was erg beseer en is ongeveer 04:00 die oggend van 25 Junie in die hospitaal oorlede.
Die nadoodse en forensiese ondersoeke is nog nie afgehandel nie en die Bothma familie soek steeds na antwoorde.
Die uitsending van Dylan se storie op Carte Blanche het kykers geskok en boodskappe van teleurstelling oor die verloop van die ondersoek en simpatie teenoor die familie het op sosiale media platforms ontplof.
“Daar is niks wat die leemte ooit sal vul nie. Ek luister nog na al sy boodskappe op my foon net sodat ek sy stem kan hoor en op ‘n manier kan voel hy is nog by my,” het Elsie gesê.
Die Bothma’s hoop dat die uitsending op Carte Blanche, die ondersoek weer momentum sal gee.