Nuwe loopbaan wag vir DBV inspekteur
Streicher het met 'n swaar hart afskeid geneem van die DBV Heidelberg en sê sy sal altyd 'n ondersteuner wees en dat haar passie vir diere blywend is.

’n Kampvegter vir diere en onmisbare deel van die DBV familie, Izalene Streicher het die Heidelberg Dierebeskermingsvereniging (DBV) gegroet.
Streicher het in Oktober 2022 as kantoor administrateur by Heidelberg DBV begin werk en in Mei 2024 gekwalifiseer as inspekteur.
Sy het in ‘n vorige onderhoud met HERAUT (Dierebeskermer deel haar passie, 10 Januarie 2025) haar pad na inspekteur gedeel en vertel dat sy eers net as vrywilliger begin het, maar besef het daar is ‘n groot nood by die DBV. Haar liefde en passie vir diere was deel van haar besluit om uiteindelik as inspekteur te kwalifiseer.
Streicher wat in 2021 ‘n graad in bedryfsielkunde en arbeidsverhoudinge by NWU Potchefstroom verkry het, het gesê sy groet die DBV met ‘n swaar hart om haar nuwe loopbaan by Sydsen Recruit-Global te volg om haar toekomstige vooruitsigte te verbeter.
“Ek werk op die oomblik met internasionale personeel werwing in die ingenieurswese en IT bedryf en dit is in die rigting waarin ek studeer het. Dit was ’n moeilike besluit, aangesien my tyd by die DBV vir my ongelooflik waardevol was,” het sy vertel.
Streicher het haar dankbaarheid teenoor die gemeenskap van Heidelberg en almal wat die DBV ondersteun, uitgespreek en hulle bedank vir die onwrikbare omgee en betrokkenheid.
“Die gemeenskap se liefde vir diere en hul samewerking het ’n groot verskil gemaak, en ek is dankbaar om deel van so ’n passievolle gemeenskap te kon wees,” het sy gesê.
Sy het ook die personeel van die DBV bedank vir hul toewyding en harde werk en gesê dit was ‘n eer om saam met so ‘n span te kon werk.
“Alhoewel ek ’n nuwe pad stap, sal my liefde vir diere en die DBV altyd bly. Ek wens die organisasie net sukses toe en sal altyd ’n ondersteuner bly.”