Heidelberg Rugbyklub het op 26 April teen Kempton Wolwe in die Presidentliga te staan gekom.
Die wedstryde, wat ool die semi-finaal in die Berkafdeling van die liga was, is op die Hoër Volkskool se velde gespeel.
Die eerstespan het met 38–24 geseëvier.
Hoewel daar heelwat foute weens druk in die wedstryd voorgekom het, het Heidelberg genoeg gedoen om as oorwinnaars van die veld te stap.
Kempton het vroeg in die wedstryd vuur en vlam gespeel en vinnig ’n voorsprong van 13 punte opgebou.
Soos die eerste helfte gevorder het, het Berge egter hul voete gevind.

Kempton moes alles in hul verdediging insit om te keer dat Heidelberg nie oor hulle hardloop nie.
Die halftydtelling was 21 -16 in Heidelberg se guns.
In die tweede helfte het Kempton alles in die stryd gewerp om Berge se speelpatroon te ontwrig.
Berge het egter kop gehou en as ’n span goed saamgespeel om te verseker dat die telbord aanhou praat.
Heidelberg se eerstespan het ses drieë in die wedstryd gedruk en vier suksesvolle doelskoppe behaal.

Die puntemakers was: Alvin Jansen (2), JJ Mienie, Nantus Mouton, JD Delport en Franco Hattingh.
Doelskoppe: JJ Mienie (4).
Die tweedespan het in ’n taai wedstryd met 13–5 teen die Wolwe gewen.
Berge se tweedes het stadig begin, maar het later beter begin saamspeel.
In die finaal sal Heidelberg teen Nigel Rugbyklub te staan kom op die John Vorster-stadion in Nigel.



