Heidelberg se Judith Kea ontvang Afri-Indie-toekenning vir beste gospel-enkelspel
Haar gospel-enkelspel, Dans met die Engele, het nie net harte geraak nie, maar ook die beoordelaars beïndruk en vir Kea nóg 'n welverdiende toekenning ingebring.
Heidelberg se eie musiekjuweel, Judith Kea, het weer eens bewys hoekom sy as een van Suid-Afrika se uitstaande onafhanklike kunstenaars beskou word.
Sy is onlangs vereer met ‘n Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekenning in die kategorie vir beste vroulike gospel-enkelspel.
Die 2025 Afri-Indie-toekennings is op 5 Augustus by die AfriForum Teater in Pretoria gehou. Dié toekennings, wat sedert 2019 uitnemendheid in die onafhanklike musiekbedryf vier, bekroon kunstenaars wat sonder die steun van hoofstroom platemaatskappye hul merk maak.
Kea is benoem vir haar inspirerende enkelsnit Dans met die Engele, en is uiteindelik as wenner aangewys nadat die beoordelaars die inskrywings en data deeglik oorweeg het.
Sy het reeds in die verlede ’n Afri-Indie-toekenning, sowel as verskeie ander musiektoekennings, verower.
“Elke toekenning wat ek ontvang, is soos ’n skatkis in my hart,” sê Kea.
“Die span, die werk, die hoop en geloof wat in elke projek ingaan, is spesiaal. Om dan beloon te word met ’n nominasie wat uitloop op ’n toekenning, is vir my ’n groot seëning.”
Sy beskryf die proses agter haar winnende lied as diep persoonlik en geestelik betekenisvol.
“Die reis is hand aan hand met God. Van die eerste fluister tot die voltooide lied was daar baie trane én vreugde. Die harde werk het beslis vrugte afgewerp.
Dans met die Engele is nie net ’n lied wat ’n toekenning gewen het nie, dit is ’n getuienis in musiekvorm.”
Judith sluit af deur die aand as “’n sielsverrykende geleentheid tussen legendariese kunstenaars” te beskryf, wat haar inspirasie gegee het vir die volgende seisoen van haar musiekreis.



