Heidelberg mode- en stylikoon word genomineer as een van SA se Top-50 inspirasievroue
Heidelberg se mode-ikoon en inspirasiespreker, Sandra Taljaard, is genomineer as een van Voelgoed Media se Top-50 Inspirasievroue. Ondersteun haar deur te stem.
Sandra Taljaard, bekend as ’n mode- en stylikoon en geliefde gesig in Heidelberg, is onlangs aangewys as een van die Voelgoed Media Top-50 Inspirasievroue in Suid-Afrika.
Hierdie gesogte nominasie eer vroue wat nie net ander inspireer nie, maar aktief ’n verskil maak in hul gemeenskappe.
Sandra is ’n baanbreker, inspirerende spreker, en stylkonsultant wat haar platform gebruik om vroue, van skoolmeisies tot gevestigde leiers, te help om doelgerig, dinamies en selfversekerd hul merk in die wêreld te maak.
Sy is passievol oor jeugontwikkeling en bied regdeur die jaar praatjies en werkswinkels aan wat fokus op selfvertroue, leierskap en persoonlike groei.
Haar betrokkenheid by die VLU sluit in die bevordering van vroueleierskap en gemeenskapsprojekte, waar sy as mentor en inspirasie dien vir lede regoor die land.
Sy neem aktief deel aan VLU-byeenkomste, waar sy haar kennis van styl, selfbeeld en kulturele bewaring deel om vroue toe te rus vir persoonlike en gemeenskapsukses.
As aktiewe lid en ondersteuner van die ATKV is Sandra ook ’n vurige kampvegter vir die Afrikaanse taal en kultuur.
Sy tree gereeld op as spreker by ATKV-funksies en -projekte wat daarop gemik is om die Afrikaanse taal en Suid-Afrikaanse geskiedenis te bewaar en vir jonger geslagte lewendig te hou.
Haar entoesiasme en kreatiewe benadering maak dat sy ’n geliefde stem in hierdie kringe is.
Sandra is sinoniem met diens en betrokkenheid. Sy steun verskeie organisasies en plaaslike projekte, altyd met die doel om ’n blywende positiewe impak te maak.
“Ek is dankbaar om genomineer te wees as een van die Top-50 Inspirasievroue,” sê Taljaard.
“Hierdie nominasie is meer as ’n titel; dit is ’n viering van elke vrou wat al deur uitdagings gestap het.”
Ondersteuners kan hul stem vir Sandra uitbring deur hierdie skakel te besoek: voelgoed.co.za/inspirasievrou/noppe-taljaard of ’n SMS te stuur na 33282 met die kodewoord INSPIRASIE28.Die toekenningsgeleentheid vind op 1 November plaas.



