Eenheid Suikerbos bring hulde aan gestorwe soldate
SAWV Eenheid Suikerbos hou op 28 September ’n gedenkdiens by die Ou Tronk in Heidelberg as deel van Operasie White Dove.
SAWV-eenheid Suikerbos gaan op 28 September, as deel van die SAWV, hulde bring aan die gesneuwelde soldate van Suid-Afrika.
Operasie White Dove is die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) se eie unieke gedenkdiens wat regdeur die land deur eenhede of sektore aangebied word.
Dit word jaarliks op verskeie Sondae in September gehou.
Die SAWV het ’n besondere manier om die gedenkdiens aan te bied: daar word ’n protea neergelê om só eer te bring aan die soldate wat die hoogste prys betaal het.

Eenheid Suikerbos (Heidelberg) nooi alle familie en vriende wat iemand in die gewapende magte verloor het om die geleentheid by te woon.
Die gemeenskap is egter ook welkom om aan die dag se verrigtinge deel te neem.
Eenheid Suikerbos, met voorsitter Frik van Niekerk aan die spits, nooi belangstellendes uit om ’n protea neer te lê ter nagedagtenis aan ’n gestorwe soldaat.
Die geleentheid sal by die Ou Tronk in Jordaanstraat plaasvind.
Bevestiging is belangrik, en belangstellendes kan voor of op 12 September RSVP deur 071 438 3002 te skakel.



