Heidelberger is in Engeland oorlede
Die Van der Spuy-gesin treur oor die afsterwe van Andrew (48), seun van Sybrand en Beverley van der Spuy, wat op 14 Augustus in Engeland ná ’n stryd teen kanker oorlede is.
Andrew van der Spuy (48), seun van die bekende Heidelbergers Sybrand en Beverley van der Spuy, is op 14 Augustus in Engeland oorlede.
Andrew, wat op 11 Oktober 1976 gebore is, het aan ’n seldsame, aggressiewe kanker gely. Dit het veroorsaak dat hy baie tyd by dokters en ook in hospitale moes deurbring.
Sy laaste operasie in April vanjaar het 14 uur geduur.
Andrew was ’n leerder aan beide Laer- en Hoër Volkskool, waar hy in 1994 sy matriek voltooi het. Ná skool het hy ’n Honneursgraad in Informatika (Rekenaarwetenskap) verwerf.
Die afgelope vyf jaar het hy in die Verenigde Koninkryk gewoon, waar hy vir verskeie maatskappye gewerk het.
Andrew laat sy ouers, Sybrand en Beverley, asook sy broers Marten en Justin met hul gesinne agter.
Sy ouers het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle in hierdie tyd ondersteun het.
“Ons bedank almal vir die boodskappe en ondersteuning; dit word opreg waardeer,” het Sybrand en Beverley gesê.



