Local news

KYK: Susan Coetzer deel inspirerende wysheid by VLU Rensburg

Sy het haar insigte gedeel deur die beeld van roosblare en die storie van Martha en Maria te gebruik om te illustreer hoe groei, vreugde en pyn deel is van die menslike reis.

Die VLU Rensburg-tak het op 9 September met ‘n stampvol kerksaal hul gekose skrywer van die jaar, Susan Coetzer verwelkom.

Susan Coetzer is nie net ’n bekende aktrise nie, maar ook ’n skrywer met meer as 30 boeke.

Sy is ‘n vrou van geloof en deel haar lewensreis, geestelike insigte en geloofservaringe met lesers. Haar werk dra dikwels ’n sterk inspirasieboodskap en fokus op hoop, herstel en die vind van betekenis in God.

Haar boodskap was een van lewe. Voordat sy haar hart gedeel het, het sy op die noot van Celine Dion se liedjie I’m alive roosblare oor die gaste gestrooi.

“Ons is almal roosblare,” het sy gesê en verduidelik dat die lewe soos ’n roosblaar gesien kan word.

“Soos roosblare is dit kleurvol en vol geur; elke fase bring sy eie skoonheid en uniekheid

Soms dra dit die varsheid van ’n nuwe begin, soms die oorvloedige geur van volheid, en ander kere die brosheid van ’n droë blaar wat sy seisoen voltooi het.

“Tog, of dit vars en blink of droog en vergeeld is, bly dit steeds ’n roosblaar; deel van die groter blom.

“Net so behou die lewe, met al sy hoogte- en laepunte, sy waarde en betekenis.

“Elke oomblik, of dit lig of swaar is, vorm deel van die geheel wat ons menswees definieer,” het sy voortgegaan.
Susan het vertel dat sy nooit haar hand opgesteek het om ’n inspirerende spreker te wees nie, maar die Here het dit in 2007 in haar siel ontbloot toe sy besig was met haar eerste boek.

Die boek fokus op die boodskap van Jeremia 29 dat God ’n lewe van voorspoed en nie van teenspoed nie vir Sy kinders wil hê, maar ook dat God jou sal antwoord as jy uitroep na hom.

“Soms stop ons by vers 11 wat praat van die voorspoed en goeie dinge wat God vir ons wil hê en dan wag ons, maar ons moet ook verder lees want die Here sê ook: ‘Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg,‘” het sy vertel en verduidelik dat elke mens met sy geboorte ‘n geskenksakkie vol talente ontvang het.

Soms deel ons soveel van ons talente uit en vergeet dat dit ook vir onsself moet werk. Sy het die woorde van Theodore Roosevelt aangehaal: ‘Doen wat jy kan, met wat jy kan, waar jy is’.

Susan Smit, Petra Basson, Minette Roodt en Susan Coetzer.

Susan het ook die voorbeeld van Martha en Maria van die Bybel gebruik. Martha is die beeld van harde werk en pligsgetrouheid. Sy was besig om alles reg te kry, die mense te bedien en seker te maak dat alles perfek is.

Haar fokus was op doen. Maria, aan die ander kant, het gekies om stil te sit by Jesus se voete, luisterend en ontvangend in Sy teenwoordigheid.

So word Martha ’n simbool van die daaglikse take en verantwoordelikhede wat ons dikwels inspan, terwyl Maria ons herinner dat ware vervulling en vrede lê in tyd saam met Christus, waar ons rus en wysheid ontvang om die werk van elke dag te dra.

“Die Here het nooit beurtkrag nie. Hy is ons onuitputbare bron van krag en lewe. Ons moet Hom net aanroep.”

Sy het aangesluit by haar openingsboodskap van lewe en genoem dat die lewe en sy uitdagings nie maklik is nie.

Susan Coetzer strooi roosblare oor die gaste.

“Groei is pynlik. Met elke seisoen is daar pyn. Blomme bars oop in die lente. Diamante word eers geslyp om sy skoonheid te kry. Die mooiste pêrels word eers gesien wanneer die skulp oopgebreek word.“Elke seisoen bring sy eie uitdagings en mooi, maar ook pyn. Soos ’n blom wat deur die koue grond moet stoot om lig te bereik, word ons dikwels deur moeilike tye gedruk voordat ons groei beleef. Wanneer die knop oopbars, is dit nie sonder spanning of pyn nie, maar juis daardie barsting wat die blom tot sy volle skoonheid bring.

“Net so word ons deur pynlike seisoene gevorm: die winter van verlies, die lente van nuwe hoop, die somer van oorvloed en die herfs van loslaat. Elke seisoen, selfs die swaar en pynlike, het ’n doel in die groter prentjie. Want sonder die oopbars van die knop, sou die blom nooit sy ware kleur en geur aan die wêreld kon wys nie.

“Gaan leef jou uniekheid voluit uit en groei deur elke seisoen van jou lewe,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button