Bybelgenootskap en Nigel gemeenskap stap saam vir Bybels
Die Stap vir Bybels is weer in Nigel gehou en die gemeenskap het kragte saamgespan om die Bybelgenootskap se werk in die verspreiding van Bybels te ondersteun.
Die Afrikaanse Protestante Kerk (APK) Nigel, in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, het op 13 September die Stap vir Bybels-projek in die dorp aangebied.

Dit was die negende keer dat die inisiatief plaasgevind het, behalwe in 2020 toe dit weens die Covid-19-pandemie nie kon voortgaan nie.

Ds Carl Vermaak van die Bybelgenootskap se streekhoofkantoor in Kempton Park was ook teenwoordig.

“Ons het verlede jaar 1,7 miljoen Bybels aan mense wat nie ’n Bybel gehad het nie, gegee. Ons vertaal die Bybels in al die amptelike tale van Suid-Afrika en verskaf dit ongeag jou ras, geslag of taal,” het Vermaak gesê.

Die verrigtinge is met Skriflesing en gebed geopen deur ds Louis Kirstein van die APK.

“Vir ons is hierdie ’n gemeenskapsprojek wat nie net ten bate van net een kerk is nie, maar die hele gemeenskap aanraak. Ons elkeen is in ons eie wedloop in die lewe, en elkeen se wenpaal is iets wat jy self moet oorkom, maar dit kan nie alleen gedoen word nie. Daarvoor het ons mekaar sowel as die krag van Bo nodig,” het Kirstein gesê.

Op dié dag het 165 stappers die roete aangepak, teenoor die sowat 120 deelnemers wat dit in 2024 gestap het.





