Local news

Overkruin se ingang kry nuwe lewe met moderne opgradering

Nuwe hekke, verfwerk en biometriese toegangsbeheer skep nie net ’n trotse beeld vir die gemeenskap nie, maar versterk ook sekuriteit en veiligheid.

Overkruin se ingang spog nou met ’n vars nuwe voorkoms.

Waar daar vir jare slegs ’n sekuriteitsgebou en eenvoudige hekke gestaan het, het harde werk en skenkings die ingang heeltemal vernuwe.

Met nuwe hekke, dakke, vars verfwerk en ander verbeterings is die gebied aansienlik verfraai en bied dit nou ’n trotse aanblik vir almal wat daar inry.

Wynand van Schalkwyk, Ruan Minnie, Hein Minnie en Ina Els was aan die stuur van die projek en het seker gemaak dat alles klopdisselboom verloop.

Van Schalkwyk, voorsitter van die Overkruin Security Association (OSA) het verduidelik die OSA is ’n nie-winsgewende organisasie en dat die inwoners die kostes self gedra het.

Oor die visie agter die opknapping van die Overkruin-ingang en hoe dit kan bydra tot die gemeenskap se beeld en trots, het Van Schalkwyk verduidelik: “Dit was ’n jarelange droom vir die inwoners sowel as die bestuur.

Met skenkers en goeie gawes het dit moontlik geword dat ons die droom kon laat waarmaak.

Deur dit te doen kon ons ander doelwitte ook bereik, wat insluit die verbetering van die algehele netheid en voorkoms deur die ingang te moderniseer.

Ons wil ’n goeie beeld skep vir elkeen wat Overkruin binnegaan.

Toegangsbeheer gaan verbeter word met biometriese stelsels en ons het die kameras in en om die waghuis meer strategies geplaas.

Overkruin se nuwe ingang.

Daar is ook ’n spesiale waggebou vir die werkers wat Overkruin wil betree. Daar is oorhoofse beskutting, asook sitplekke, vir hulle terwyl hulle wag om toegang,” het Van Schalkwyk gesê.

Hy het ook meer lig gewerp op hoe die projek befonds is en wie die ondersteuners was.

“Inwoners het getrou bygedra met hulle maandelikse heffings. Dit was die hoofbron van inkomste. Daar was ook ’n suksesvolle gholfdag gehou. Verskeie anonieme borge het die rekenaarstelsel geborg. Verder is plante ook by die ingang en waghuis geskenk.

“Die tyd wat die inwoners ingesit het om die projek ’n werklikheid te maak, het alles bygedra tot die sukses.

“Dankie aan Christo du Plessis en Johan Hattingh (ingenieurs), asook Dewald Oosthuizen (argitek), wat ’n groot rol gespeel het.”

Die mooi opgeknapte ingang is egter nie die einde van die inwoners se doelwitte nie.

Aanhoudende verbeterings soos straatligte, padtekens en heinings om Overkruin is van die projekte waarop gefokus sal word.

“Met die openbare ruimtes het ons ongelooflike inwoners wat hierdie plekke gaan instand hou,” het Van Schalkwyk gesê.

“Ons bedank elke skenker en inwoner dat hulle so mooi na Overkruin omsien. Ons waardeer dit dat elkeen self moue oprol en verseker dat ons plek altyd skoon en netjies is.

“Ons wil ‘n woonbuurt skep waar almal veilig voel ongeag die tyd van die dag. Ons wil verseker dat elkeen wat deel van die buurt is, tuis en deel van Overkruin voel,” het Van Schalkwyk mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button