Heidelberg se rol in Afrikaner-erfenis gevier met Kruger-standbeeld
Die vier meter hoë bronsstandbeeld van Paul Kruger het op 27 in Heidelberg aangedoen met ’n betekenisvolle program by Laerskool AG Visser se KameelFees.
Die historiese toer van die Paul Kruger-standbeeld, ’n brons ewebeeld van die standbeeld op Kerkplein in Pretoria, het op Saterdag 27 September in twee histories belangrike dorpe aangedoen, met besoeke aan die Kruger-standbeeld by Pretoriuspark en die Paardekraal-monument in Krugersdorp, gevolg deur ’n betekenisvolle program in Heidelberg.
Die dag se verrigtinge was ’n viering van kultuur en erfenis.
Na afloop van die Krugersdorp-besoek het die toer na Heidelberg vertrek en het die standbeeld en geselskap by Laerskool AG Visser aangesluit, waar die skool se alombekende KameelFees aangebied is.
’n Lesing is deur Carel Boshoff, FAK-direksievoorsitter, gegee oor Heidelberg se rol in die geskiedenis van die ZAR.
Heidelberg was vir ’n tyd tydens die Eerste Vryheidsoorlog die regeringsetel van die ZAR (1880–1883), en het dus ’n sleutelrol in die politieke en administratiewe geskiedenis van die Afrikaner gespeel. Hier is besluite geneem en rigtings bepaal wat tot die Boere se oorwinning oor die Engelse gelei het.

’n Hoogtepunt van die middag was die oorhandiging van ’n sertifikaat aan Bouwe Wiersma, ’n gemeenskapslid wat homself onderskei het deur sy ywerige betrokkenheid by die bewaring en uitbouing van kultuur en erfenis in Heidelberg.
Die toergroep het die verhoog betree met die opvoering van die toneelstuk “Kruger breek die pad oop” deur NP van Wyk Louw. Hierdie stuk het die lewe en nalatenskap van Paul Kruger en sy strewe na wet en orde in ’n onstuimige jong Transvaalse republiek op dramatiese wyse aan die gehoor uitgebeeld.
Die reisende Kruger-standbeeld is 4 meter hoog, weeg 1,5 ton en is ’n projek wat deur die FAK van stapel gestuur is en finansieel moontlik gemaak is deur bydraes van AfriForum, Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand.
Die beeld het Maandagoggend na Vereeniging vertrek as deel van sy reis deur verskeie dorpe, en sal op 10 Oktober, die 200ste herdenking van Kruger se geboortedag, amptelik op Orania se dorpsplein onthul word.



