Gesellige lentetee bring gemeenskap bymekaar
Sowat 200 gaste het die dag geniet met musiek, mode, dans en inspirasie, terwyl fondse ingesamel is en die gemeenskap saam kon kuier.
Veritas College het onlangs die lente feestelik ingelui met ’n gesellige lentetee.
Sowat 200 gaste, vroue én mans, het die geleentheid bygewoon en saam die lente gevier.
Die lug was gevul met die klanke van die marimbas, gespeel deur Laerskool Veritas-leerders. Verder het grasieuse balletdansers die vermaak voortgesit met klassieke en moderne opvoerings.
Die hoofspreker, Sjanette Viljoen, het die gaste meer vertel oor die werking van die brein en hoe daar met ‘breingimnastiek’ ‘n balans in die brein geskep kan word.
Elize Petrie van Ravishing Raggs het met die hulp van modelle matriekafskeid- en formele uitrustings vertoon.
Daar was ook verskeie stalletjies met unieke produkte, asook ’n demonstrasie van organiese produkte, aangebied deur Earth Owl.
“Die funksie was ’n gesamentlike poging tussen die twee kampusse van Veritas College en Veritas-skool om fondse in te samel en aan die gemeenskap die geleentheid te bied om saam te kuier,” het Veronique du Plessis, organiseerder, gesê.



