Geliefde Suikerbos Aftreeoord inwoner vier 90ste verjaarsdg
Ouma Miemie du Toit van Suikerbos Aftreeoord vier 90 jaar van liefde, harde werk en geloof, en deel haar geheim vir ’n vol en geseënde lewe.
‘n Bekende inwoner van die Suikerbos Aftreeoord, Ouma Miemie du Toit (née Pretorius), het op 24 September haar 90ste verjaarsdag gevier.
Miemie is op 24 September 1935 in Kingsley, Natal, gebore as die derde oudste van 10 kinders.
Haar pa was ’n boer en haar ma ’n tuisteskepper. In haar laerskooljare het die gesin na Volksrust verhuis, waar haar pa, Flippie, vir nog drie jaar geboer het voordat hulle hul geluk in Klerksdorp gesoek het. Daar het die Pretorius-gesin hul eie ondernemings begin wat onder andere die Minmon Tea Room, Losieshuise en taxidienste ingesluit het.
Miemie het haar skoolloopbaan aan die Klerksdorp Tegniese Kollege voltooi en daarna as boekhoudster by Martinus Kempff Ouditeure begin werk.
Dit was in dié tyd dat sy haar toekomstige man, Pierré du Toit, ’n boer van die Vryburg-distrik, in die Minmon Tea Room ontmoet het.
Vir Miemie was dit, soos sy altyd sê, liefde met die eerste oogopslag.
Die egpaar is op 16 Desember 1955 getroud en het vir ses jaar op hul plaas Groenkooi, naby Vryburg geboer.

Hulle is geseën met drie kinders, Marius, Phillip en Madeleiné. In 1978 het die gesin die plaaslewe verruil vir nuwe sakegeleenthede, eers in Alberton, waar hulle ’n petrolstasie bedryf het, en later weer in Klerksdorp, waar Miemie as boekhoudster en vennoot in verskeie ondernemings betrokke was, insluitend eiendomsagentskappe, droogskoonmakers, kafees en eiendomsverhuring.
Ná jare van harde werk het Miemie en Pierré hul aftrede in Heidelberg geniet.
Ná Pierré se afsterwe in 2009 het sy ‘n inwoner van die Suikerbos Aftreeoord geword, waar sy bekendstaan as een van die vriendelikste en mees dankbare inwoners.
As iemand haar vra hoe dit gaan, antwoord sy altyd met ’n glimlag: “Baie goed, met die genade van Bo, geen klagtes nie.”
Miemie se geheim vir ’n lang en geseënde lewe is om ’n goeie gees te hê, elke dag voluit te leef en om ten volle op die Here te vertrou.



