’n Lewe van volharding en liefde gevier op 90ste verjaarsdag
Haar liefde vir lees is welbekend en sy het al duisende boeke onder oë gehad.
Hessie Stoltz, oftewel Ouma Hessie, soos sy bekend is, het op 8 Oktober haar 90ste verjaarsdag met groot blydskap saam met ’n groot groep familie en vriende gevier.
Familie het van regoor die wêreld gekom om hierdie besondere mylpaal saam met haar te vier.
Dit het haar dogter uit Kanada en haar seun uit Australië ingesluit.
Gebore op 8 Oktober 1935 in Greylingstad, het sy op Grootvlei grootgeword en haar skooljare in die koshuis in Bethlehem deurgebring.
Sy is op 31 Januarie 1953 getroud en is geseën met sewe kinders, waarvan vyf vandag nog lewe, sowel as 18 kleinkinders en 22 agterkleinkinders.
Ouma Hessie was een van nege kinders, en vandag lewe net sy en haar tweede jongste broer.
Sy was ook deel van ’n tweeling. Haar tweelingsuster is 25 jaar gelede oorlede.
Sedert 1988 woon sy gelukkig in haar eie huisie op haar seun, Lukas Stoltz, se plaas net buite Nigel, op Witkop.
Haar liefde vir lees is welbekend en sy het al duisende boeke onder oë gehad.
Ten spyte van haar ouderdom bly sy onafhanklik, doen alles self en haar geheue en verstand is skerp soos altyd.
Haar familie beskryf haar as ’n bron van vreugde, wysheid en vrede – ’n voorbeeld van ’n goed geleefde lewe.
“Met haar 90ste verjaarsdag vier ons Ouma Hessie nie net ’n leeftyd nie, maar ook ’n nalatenskap van liefde, familie en volharding wat vir geslagte sal voortleef,” het ’n woordvoerder van die familie gesê.

Foto: Verskaf



