Suikerbosoord inwoner (88) brei fluks komberse vir troeteldiere
Yvonne Hendricks brei met liefde komberse vir troeteldiere in nood haar skenkings sorg dat diere warm en geliefd voel.
Yvonne Hendricks (88) bewys dat ’n mens nooit te oud is om ’n verskil te maak nie.
Vir die afgelope drie jaar brei sy met groot toewyding komberse vir troeteldiere in nood.
In 2025 het sy al 25 komberse voltooi, elk met liefde en sorg gemaak om ’n warm lêplek vir ’n dier te bied.
“Ek is nog altyd ’n diereliefhebber en wil my kant op my eie manier bring,” vertel sy.
“In die begin het ek my eie wol aangekoop en gebrei. Ongelukkig het die lewe te duur geword en ek kon nie meer die wol bekostig nie. Dit laat my nie ophou brei nie.
“Daar is gelukkig wel mense wat wol skenk, en dan woel en werskaf ek agter die breinaalde om die komberse te brei.
“Ek sal aldag en heeldag brei. Dit hou my hande en verstand besig,” skerts Yvonne.
Yvonne woon sedert 2006 in Suikerbos Aftreeoord en dra die titel van Silwerakker se koningin.

Vanjaar se skenking van komberse het aan Paws4U en die Heidelberg DBV gegaan, waar Petro Coetzee die skenkings in ontvangs geneem het.
Paws4U besoek elke week verskeie aftreeoorde, ouetehuise en hospitale in die Vaaldriehoek-area, waar hulle honde vir terapie gebruik.
’n Belangrike deel van Paws4U se program is om mense te leer oor troeteldieropleiding, insluitend wat om nie te doen nie, en hoe om beide mense en diere met respek te hanteer.
Tans het Paws4U net drie terapiehonde, en hulle vra die gemeenskap om kontak te maak indien iemand dalk ’n hond het wat by die span kan aansluit.
Die kontakpersoon is Elsabie Potgieter by 082 322 1029.
Persone met wol wat rondlê en dit wil skenk sodat meer komberse vir troeteldiere gebrei kan word, kan vir Marlene Walkden by 079 974 7221 skakel.



