Heidelberg se Helpende Hand bring hulde aan bejaardes
Die organisasie het hul dankbaarheid getoon deur ere-ondersteunersertifikate aan senior burgers van 80 jaar en ouer te oorhandig.
Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak het op 14 November ’n besoek aan die bejaarde inwoners van die Suikerbos Aftreeoord gebring.
Tydens die geleentheid het die tak, onder voorsitterskap van Patricia Meyer, ere-ondersteunersertifikate aan verskeie inwoners oorhandig.

Meyer het ook meer vertel oor Helpende Hand en wat die organisasie tot op hede in Heidelberg vermag het.
“Helpende Hand het in 1949 ontstaan toe ’n weduwee naaldwerk begin doen het nadat haar eggenoot oorlede is, en sedertdien het dit gegroei tot waar dit vandag staan,” het Meyer vertel.
“Ons help ook om studente wat verder wil studeer se drome ’n werklikheid te maak. Helpende Hand het in 2024 1 200 studente landwyd gehelp om verder te studeer, en in die Heidelberg-gebied is ses studente gehelp.
“Ons as Helpende Hand is nie net ’n organisasie nie. Ons bestuur ook die Ons Winkels, waar items geskenk kan word om verkoop te word, sodat meer studente met hul studies gehelp kan word,” het Meyer verduidelik.
Die sertifikate is oorhandig aan bejaardes wat 80 jaar en ouer geword het.
Altesaam is daar 50 sertifikate oorhandig, wat op verskeie plekke uitgedeel is, insluitend by die Goue Akker, Silwer Akker en die dienssentrum.
Meyer het die inwoners bedank vir wat hulle in die samelewing vermag het.
Ter afsluiting het sy gesê: “Ons is in die gemeenskap en ons is vir die gemeenskap.”



