Die verhaal van Heidelberg se Louwstraat
Louwstraat is veel meer as net ’n naam op ’n hoekpaal. Dit vertel die verhaal van ds Adriaan Jacobus Louw, predikant, skoolstigter en gemeenskapsleier.
Heidelberg spog met vele strate wat na prominente figure uit die geskiedenis vernoem is.
Voorbeelde hiervan sluit in AG Visser-, Maré-, Ueckermann-, DF Malan- en Roets-straat, om net ’n paar te noem.
Nog ’n straat wat by hierdie groep van histories betekenisvolle name gevoeg kan word, is Louwstraat.

Ds Adriaan Jacobus Louw is op 23 Januarie 1859 in Paarl gebore en het in 1884 sy teologiese opleiding op Stellenbosch voltooi. Sy eerste werksplek was in Riebeek-Wes, waar hy tot in 1888 diens gedoen het. Terwyl hy daar gewerk het, het hy onder andere ’n jong DF Malan en Jan Smuts ontmoet.
Nadat hy Riebeek-Wes verlaat het, het hy eers in Vryheid gewerk voordat hy uiteindelik Heidelberg sy tuisdorp gemaak het.

Tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog is Louw gevange geneem en na Ceylon gestuur, waar hy gebly het tot die einde van die oorlog. Met sy terugkeer het hy sy werk in die kerklike bediening voortgesit.
In die Transvaalse Sinode en die Raad van NG Kerke het Louw ’n leidende rol gespeel. Hy was aanvanklik assistent-skriba van die Sinode, daarna actuarius synodi, en later is hy as moderator verkies, ’n amp wat hy tot 1925 beklee het.
Louw en sy gesin se pastorie in Heidelberg was op die hoek van HF Verwoerd- en Van der Westhuizenstraat geleë.
Die bakstene van die ou Kruiskerk is gebruik om die pastorie te bou. Saam met Theo Donges het hy ’n skool sowel as ’n weeshuis vir kinders begin, aanvanklik in die kelder van die klipkerk. Die skool het later verskuif en staan vandag bekend as Laer Volkskool, geleë op die hoek van Voortrekker- en Begemanstraat.

Louw het ook ’n groot rol gespeel in die totstandkoming en behoud van Hoër Volkskool Heidelberg.
Hy het dit as noodsaaklik beskou dat die Afrikaanse gemeenskap hul eie skool moes hê. Gepas was dit ook dat Louw die eerste skoolhoof geword het. Hoër Volkskool is op die hoek van Jacobs- en Louwstraat geleë. Louw was alombekend as “Meester Louw”.
In September 1931 het hy sy amp by Volkskool neergelê. In Maart 1933 is hy onbestrede as tweede kanselier van die Universiteit van Pretoria verkies, maar hy het in September 1934 bedank weens toenemende doofheid.

Louw is op 23 September 1935 in Pretoria oorlede en in die Heldeakker van Heidelberg se ou begraafplaas begrawe.
Dit is gepas dat Louwstraat vandag by Hoër Volkskool verbyloop, ’n permanente herinnering aan sy nalatenskap.
Inligting: Wikipedia, https://www.theheritageportal.co.za/plaque/ou-pastorie




