Solidariteit Helpende Hand Heidelberg soek meester melktert bakker
Helpende Hand nooi die gemeenskap om te bak, proe en stem vir ’n goeie saak.
Solidariteit Helpende Hand Heidelberg-tak is op soek na die dorp se Melktert Koningin en nooi alle melktert-liefhebbers om hul bak- en brouvernuf ten toon te stel.
Op 21 Februarie vier Helpende Hand Heidelberg-tak Melktertdag, en bakkers sowel as aspirant bakkers word uitgenooi om hul gunsteling melktert inskrywings deel te maak van die feestelikhede.
Inskrywings kan enige kreatiewe variëteit van melktert wees, soos onder andere melkskommels, melktert roomys, kaaskoek, pannekoek, koffielattés, mini-melkterte, malvapoedings, kolwyntjies of ysmelktertdrankies.

Foto: Capsicum Culinary Studio (argieffoto)
Die enigste vereiste is dat alle produkte self gebak of voorberei moet wees, en dat twee van dieselfde item ingeskryf word – een vir beoordeling en een vir fondsinsameling. Die publiek sal self die beoordelaars wees.
Inskrywings open om 07:30, met beoordeling wat om 09:00 begin. Die wenners sal om 12:00 aangekondig word. Verskeie pryse, insluitend geskenkbewyse, is op die spel.
Die melktert geleentheid vind plaas by Helpende Hand Heidelberg Ons Winkel in die Forum-gebou in Heidelberg.
Vir meer inligting, kontak Patricia Meyer by 083 305 3577 of Marty Jerling by 082 465 9343.



