Nigel VLU skop 2026 positief af
Die Nigel VLU het die nuwe jaar afgeskop met bemoedigende woorde, ’n huldeblyk aan Gerda Steyn en goeie samesyn.
Die Vroue Landbou Unie (VLU) se Nigel-tak het op 15 Januarie hul eerste vergadering vir 2026 gehou.
Die vergadering is geopen deur die voorsitter, Anna-Marie Axer en in haar openingswoord het Axer gesê: “Ons wil die jaar met warmte, gasvryheid en styl vul. Elkeen se samewerking en toewyding is die grootste geskenk vir 2026.
“Ons wil ook elke matriekleerder gelukwens met hul uitslae en wens hulle ’n rooskleurige toekoms toe.”

Ronel Lombaard was volgende aan die beurt met skriflesing en gebed en die lede herinner dat daar saam soveel vermag kan word.

“Vind vrede in wat jy doen en leef jou lewe voluit. Bo alles, leef jou geloof uit en wees ’n baken vir ander,” het Lombaard gesê.
Die VLU se persoonlikheid van die jaar is die langafstandatleet, Gerda Steyn.
Tonien Botha het verder uitgebrei oor Gerda en haar indrukwekkende hardloopsuksesse.

Lede is vertel hoe Gerda haar loopbaan as langafstandatleet begin het, asook van die volharding en geloof wat haar pad kenmerk.
Verder is die lede aan ’n “streng” vasvrakompetisie onderwerp, waar almal kop gekrap het om die regte antwoorde te verskaf.
Na afloop van die vergadering het die lede gesellig saam gekuier en opgevang or almal se doen en late oor die feesseisoen.
Die volgende vergadering vind op 12 Februarie plaas. Enigiemand wat belangstel om by die VLU aan te sluit, kan Elsa Greyling by 083 703 1763 kontak.



