Nigel VLU vier 799ste vergadering met kuns en liefde
Die VLU Nigel-tak het hul 799ste vergadering gevier met ’n inspirerende boodskap oor liefde en ondersteuning, ’n kunsdemonstrasie in decoupage en gesellige samesyn.
Die VLU Nigel-tak het op 12 Februarie hul tweede vergadering van die jaar gehou – ’n besondere mylpaal aangesien dit die tak se 799ste vergadering was.
Die byeenkoms was geopen deur die voorsitter, Anna-Marie Axer, wat lede aangemoedig het om die nuwe jaar met ywer en eensgesindheid aan te pak.

“Ons gaan vanjaar skouer aan die wiel sit en produktief bly. Ons moet nie ophou om mekaar te ondersteun nie. Lewe is kort. Wees lief vir jou medemens en moenie ophou om goed aan ander te doen nie,” het Axer gesê.
Die maand se gasvrou was Mabel van Staaden, wat lede herinner het dat liefde nie net tot Februarie beperk moet wees nie.

“Liefde is ’n alledaagse aksie en moet onvoorwaardelik toegepas word,” het sy gesê.
Die bykomende tema vir die maand het ook Valentynsdag en liefde gevier.
Die hooftema van die vergadering was decoupage, waar lede ’n interessante en praktiese demonstrasie ontvang het.
Ansie Jonker het gewys hoe papier- of servetpatrone op oppervlaktes, soos hout, glas, metaal of karton, aangebring kan word om unieke kunswerke te skep. Sy het die tegniek stap vir stap verduidelik en dit selfs vir beginners toeganklik gemaak.
Vanjaar se VLU kunstenaar van die jaar is dr Sarah Pryke. Tonien Botha het meer vertel oor Pryke se pad in die kunste.

Sy is ’n bioloog én ’n glas- en mosaïekkunstenaar wat haar wetenskaplike oog gebruik om realistiese en fyn detailwerke te skep.

Haar kunswerke fokus hoofsaaklik op die natuur en wild, en word meestal uit glas saamgestel.
Laastens het Ansie Jonker ’n demonstrasie oor decoupage aangebied en gewys watter unieke kunswerke ’n mens met dié tegniek kan skep.

Sy het die proses eenvoudig en toeganklik verduidelik, sodat selfs beginners dit met selfvertroue kan aanpak.
Na afloop van die demonstrasie het lede gesellig saam verkeer en verversings geniet.
Enigiemand wat meer wil weet of by die Nigel VLU wil aansluit, kan Elsa Greyling kontak by 083 703 1763.
.




