Heigel Fotoklub se jong en ervare fotograwe maak hul merk
Sowat 65 foto’s is tydens Heigel Fotoklub se Februarie-vergadering beoordeel, met wenners in verskeie kategorieë.
Heigel Fotoklub het op 11 Februarie sy gebruiklike maandelikse vergadering gehou.
“Die fotograwe se werk is besig om al hoe meer te verbeter en dit wys duidelik dat hulle in hulle fotografie groei.
Ons as bestuur is opgewonde oor hoe die klub maandeliks vorder. Foto’s vertel stories en neem ons na nuwe geleenthede,” het die voorsitter, Dawie de Villiers, gesê.
Tydens die vergadering het fotograwe sowat 65 foto’s ingeskryf wat deur beoordelaars bespreek en geëvalueer is, waarna die beste foto’s aangewys is.
Die voorgeskrewe tema vir die maand was leidende lyne-fotografie.

Daar is ook verskeie ander afdelings waarin lede kan inskryf, onder meer natuur, voëls, ope, portrette, swart en wit, sport en joernalistiek, geboue en meer.
Die wenners was:
Voorgeskrewe tema-wenner: Kleurvolle Sonsonder deur Dawie de Villiers.
Beste algemene wenfoto: Eerste Lig deur Nicolaas Smith.
Beste junior wenfoto: Flamingo Tango 2 deur Heinrich van der Merwe.
Die voorgeskrewe tema vir Maart is eenvoud.

Die klub beplan ook om in Maart sy jaarlikse galageleentheid aan te bied waartydens hulle die nuwe bestuur vir die jaar sal aanwys, merietesertifikate oorhandig en toekennings vir beste vordering en fotograaf van die jaar sal uitdeel. Die datum sal binnekort aangekondig word.
Enigiemand wat belangstel om by die klub aan te sluit of meer inligting benodig kontak Dawie de Villiers by 084 600 5765.
Die volgende vergadering vind op 11 Maart plaas.



