SAWV, Eenheid Suikerbos stel nuwe bestuur bekend tydens 17de bestaansjaar
Die geleentheid het ’n viering van toewyding, gemeenskapsprojekte en nuwe leierskap ingesluit.
Die Suid-Afrikaanse Weermagtevereniging (SAWV), Eenheid Suikerbos, wat in Heidelberg gesetel is en deel vorm van Sektor Wilger 1.4, het op 14 Februarie sy jaarlikse algemene vergadering gehou en sy nuwe bestuur bekendgestel.
Die geleentheid het ook saamgeval met die viering van die SAWV se 17de bestaansjaar.

Frik van Niekerk, Eenheid Suikerbos se voorsitter, het almal verwelkom, waarna kapelaan Gert van Rooyen die vergadering met skriflesing en gebed geopen het.

Daarna is die jaarverslag aangebied. Van Niekerk het beklemtoon dat Eenheid Suikerbos met harde werk in die sektor uitgestaan het.
“Ons het ’n toegewyde span wat soos ratte in ’n masjien werk. Elkeen weet wat van hulle verwag word en doen hul deel met toewyding,” het van Niekerk gesê.

Daar is verskeie projekte waaraan Eenheid Suikerbos aktief betrokke is, insluitend Projek Edelvalk (hulp aan gestremdes), Projek Dwervalk (jeugontwikkeling), Projek White Dove, erfenisbewaring en gemeenskapsinisiatiewe.

Tydens die vergadering is die nuwe bestuur gekies wat die eenheid vorentoe gaan lei. Sharon West van menslike hulpbronne by SAWV-hoofkantoor was byderhand om die nuwe bestuur te bekragtig.

Die nuwe bestuur is: Voorsitter: Frik van Niekerk, visevoorsitter: Evert Pistorius, adjudant: Lydia Botha, kapelaan: Gert van Rooyen, sersant-majoor: Johan Strydom, en kommunikasiebeampte: Eugene Viljoen.

Ná die formele verrigtinge is SAWV se 17de bestaansjaar gevier, en Sharon West het die koek gesny.
Verskeie lede van die Suikerbos Voortrekkerkommando het gehelp om verversings ná die verrigtinge aan te bied.




