Local news

Gebore Heidelberger begin nuwe hoofstuk in Stilbaai

’n Leeftyd van herinneringe, harde werk en gemeenskapsbetrokkenheid lê agter hom.

’n Bekende gesig in Heidelberg se sakewêreld, Chris du Preez (73), maak gereed om ná ’n leeftyd in die dorp die stof van sy voete af te skud.

As gebore en getoë Heidelberger groet hy einde Februarie sy tuisdorp om sy goue jare in Stilbaai deur te bring.

Chris is in 1953 in Rensburg gebore en het sy skoolloopbaan plaaslik aan Laerskool AG Visser voltooi en daarna gematrikuleer aan Hoër Volkskool.

Hy was een van agt kinders, waarvan slegs twee vandag nog leef.

Ná skool het hy in 1971 sy weermagopleiding voltooi. Hoewel hy graag verder wou studeer, was dit weens finansiële druk in ’n groot gesin nie moontlik nie.

Sy eerste vaste betrekking was as klerk by die SA Spoorweë, waar hy drie jaar gewerk het.

Met groter drome het hy daarna die klerklike werk verruil vir ’n pos in die privaat sektor in die papierbedryf. Hier was hy 22 jaar lank kwaliteitskontroleerder totdat die fabriek sy deure gesluit het.

Vir die daaropvolgende agt jaar het hy as kwaliteitskontrolekonsultant op kontrakbasis gewerk.

Later het Chris sy eie plaagbeheerbesigheid in Heidelberg begin, ’n onderneming wat hy vir 32 jaar bestuur het.
Dit is ook hier waar hy nou die tuig gaan neerlê.

In sy persoonlike lewe was Chris tien jaar met sy eerste vrou getroud en het hulle saam ’n seun gehad. Hy is reeds 34 jaar met sy tweede vrou getroud. Hy het haar twee dogters as sy eie aanvaar en grootgemaak.

Sy seun woon in Thailand, terwyl sy twee dogters onderskeidelik in Engeland en Ermelo woon. Chris is ook die trotse oupa van drie kleinkinders.

“Ek is ’n Heidelberger in murg en been en trots daarop om Heidelberg my tuiste te kon noem. Covid het baie besighede geraak, en myne was geen uitsondering nie.

“My vrou en kinders was my rots en anker in daardie moeilike tye. Sonder hulle sou ek dit nie gemaak het nie.
“Ek koester baie mooi herinneringe en sal dit altyd naby my hart dra,” sê Chris.

In sy jonger dae was hy ’n rugby- en krieketspeler. As toegewyde sportentoesias het hy ook gereeld hokkiewedstryde bygewoon wanneer sy kinders gespeel het.

Op die vraag oor sy dryfveer antwoord hy: “My vrou en kinders is my lewe, en my geloof het my deur baie uitdagings gedra.”

Sy raad aan ander is eenvoudig maar kragtig: “Wees dankbaar in alles wat jy doen. Leef jou geloof uit sonder om daarvan af te wyk. Moenie stilsit nie; help waar jy kan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Eugene Viljoen

I am a person who likes to learn everyday and the more you live the more you learn, I love photography as it tells a story that words can not express. I love sports journalism.

Related Articles

Back to top button