Dirigente tradisies van die Heidelbergse Onderwyskollege onthou
'n Oud-student van die Heidelbergse Onderwyskollege het 'n gedig geskryf oor sy tyd as dirigent vanaf 1961 tot 1963.
Soos die oud-studente van die Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) terugkyk op gebeurtenisse en tradisies in die jaar voor hul 60-jaar reunie in 2027, onthou oud-studente die dirigente.
Dirigente, die geesleiers van ondersteuners by sportbyeenkomste tussen die onderskeie onderwyskolleges en ander geleenthede, was ‘n baie groot deel van die kollege se geskiedenis, en selfs dekades later herhaal oud-dirigente hul dae op kollege.
Jakes Labuschagne word onthou as die HOK se kleurrykste dirigent, en het tydens die 50-jaar reunie in sy ou dirigente-uniform die ander oud-studente weer voluit laat sing.

Hy was dirigent van 1961 tot 1963, en het ook ‘n gedig geskryf oor sy dae by die HOK, waarvan die eerste twee strofes lui
• Waar sou jy óóit ‘n wêreld kon vind
Wat jou seer van tienertyd só sorgsaam verbind?…
As hier op HOK–gronde waar seer en verwarring
Oor jare verdof en soos ‘n suikerbos blom ná koue of stof!
• Waar dryf die saamwees met studente en maters
Jou só tot die rypheid vir jou wêreld van later?
Hier het ek my tapeserie van menswees geweef…
Waar ons nou nóg verlang om te wees, hart en met gees!

PHOTO: Verskaf.
In daardie dae was deel van die jaarlikse geesvang-aktiwiteite die seremonie, wat elke eerstejaar student moes bywoon, waar die “gees” begrawe is om studente te kry om uit te sien na die wedywering teen ander kolleges in verskeie sport items.
Die eerstejaars moes aansit en vreeslik dramaties huil en weeklaag tydens die begrafnis om hul lojaliteit en ywerigheid teenoor die “gees” te toon.
Deur die “gees” te rou wanneer dit begrawe word wys hulle dat hulle dit voluit sal uitleef wanneer dit opgewek word.



