Local news

Historiese Groot Trek-ossewa word vir toekomstige geslagte herstelt

Fanie Botha se ossewa het 'n reis van formaat gehad, en word nou gerestoureer danksy die familie se bydrae.

Die nalatenskap van die Heidelbergse boer, kultuurleier en innoveerder Stefanus Petrus ‘Fanie’ Botha (1909 tot 1997) leef steeds voort.

Nie net deur die historiese ossewa wat hy vir die 1938-Groot Trek-eeufees laat bou het nie, maar ook deur sy bydraes tot onderwys, sendingwerk, landbou en gemeenskapsontwikkeling.

Terwyl die ikoniese ossewa tans gerestoureer word, deel sy kinders herinneringe aan ‘n man wat sy lewe aan God, sy gemeenskap en sy kultuurerfenis gewy het.

Hy het vir die 100-jarige herdenking van die Groot Trek ‘n ossewa laat bou en dit vanuit die Wes-Kaap na Gauteng gestuur vir die vieringe by die Voortrekkermonument.

Die wa het oor die jare op verskeie plekke gestaan, met sy mees onlangse tuiste by die Voortrekkermonument. Ná dekades en talle verskuiwings het dit egter erg verweer en moet dit nou gerestoureer word.

Die ossewa wat Fanie Botha laat maak het vir die 100-jaar herdenking van die Groot Trek. FOTO: Verskaf

Die wa is voorheen deur professor Erick Holm gerestoureer voordat dit na die monument verskuif is, maar sedertdien is geen verdere restourasiewerk gedoen nie.

Ná die Groot Trek-herdenking het die wa jare lank in ‘n klipwaenhuis op Rietspruit gestaan. In 1958 of 1959 het Hester Grobelaar van die Pretoria Onderwyskollege gevra om die wa vir ‘n ossewa-optog te gebruik.

Die kollege het daarna die bewaring van die wa oorgeneem, maar met die sluiting van die kollege is dit in ‘n volgepakte stoor in Sunnyside geberg.

Later is die wa na Boekenhoutfontein, Paul Kruger se plaas, verskuif, waar dit weer erg verweer het voordat Holm dit gerestoureer het.

Vir die huidige restourasie het die Botha-familie fondse ingesamel en aan die bewaarder oorhandig. Die wa sal na verwagting teen die einde van Augustus weer vertoon word.

Die wa dra geen teken van ‘n wamaker se naam of merk nie, maar die lisensieplaatjie is steeds sigbaar. Tog het elke wamaker sy eie kenmerkende boustyl gehad.

Retha Harmse en Dirk Botha, kinders van Fanie, onthou hom as ‘n toegewyde boer, trotse Heidelberger en passievolle innoveerder.

“Hy was ‘n man wat baie vir volk en vaderland was. Daardie jare was sulke byeenkomste, soos die Groot Trek-herdenking, baie belangrik. Hy het ook baie Geloftefeesvieringe bygewoon,” vertel Retha.

“Ek sal verskriklik hartseer wees as kinders ons ware geskiedenis vergeet. Hulle moet weet wat dit alles van die boere geverg het om met ossewaens oor berg en dal tot hier te kom,” sê sy.

“Die jong klomp is baie veroordelend oor ons geskiedenis, maar die waarheid is dat die Afrikaner ook baie mense gehelp het,” verduidelik sy.

Dirk het baie boeke oor die Anglo-Boereoorlog gelees, waaruit hy geleer het hoeveel vroue, kinders en swart mense in die konsentrasiekampe gesterf het.

“Vyftienjarige seuns moes aan die oorlog deelneem, en as hulle deur die Engelse gevang is, is hulle na eilandgevangenisse gestuur,” sê hy.

“Swart mans en seuns het ook saam met die boere in die oorloë geveg,” sê Retha. “Hulle het net soveel in die kampe gely.”

“Op die plaas het my pa altyd gesê dat ons nooit enigiemand moet minag nie. Hulle was ons gelykes,” sê sy.

Hy het selfs ‘n sendingkerk op die plaas gebou wat later ook as skoolgebou gebruik is. Kinders kon daar onderrig ontvang mits hulle ook die kerkdienste bygewoon het. Sommige van die leerders is later op Fanie se onkoste vir verdere studie gestuur.

Fanie en Anna Botha by die 100-jaar herdenking van die Groot Trek in hul voortrekker uitrustings. FOTO: Verskaf.

Daarbenewens het hy kerkdienste op klank opgeneem vir die swart gemeenskappe in die omgewing, in hul eie tale.

“Daar was beslis mense wat swart mense sleg behandel het; niemand twyfel daaraan nie. Maar daar was ook dié wat goed vir hulle was,” sê Dirk.

Benewens sy passie vir sy gemeenskap, geskiedenis en godsdiens was hy ook ‘n groot innoveerder wat voortdurend nuwe dinge beproef het. In die vroeë jare van sy boerdery net buite Balfour het hy self elektrisiteit opgewek met ‘n opwekker wat op petrol en paraffien gewerk het.

Die “enjin”, soos die kinders daarna verwys het, moes met ‘n handslinger aan die gang gesit word. Omdat dit op gelykstroom gewerk het, moes die uitset voortdurend gemonitor word om skade of gevare te voorkom.

Hy het sy huis só ontwerp dat elke slaapkamer ‘n wasbak gehad het sodat die groot gesin nie elke oggend tou hoef te staan vir die badkamer nie – iets wat destyds baie ongewoon was.

Hy was ook een van die eerste boere in die omgewing wat ‘n trekker gebruik het. Sy vrou, Anna Botha, kon danksy die opwekker ‘n stofsuier, strykyster, verskeie radio’s en elektriese ligte gebruik.

Oortollige krag is in Edison-batterye gestoor om saans te gebruik. Anna was ook ‘n merkwaardige vrou in haar eie reg.

Sy het seep gekook, gebak en gehelp met die stigting van die Goeie Hoop-VLU-tak, waarvan sy die eerste voorsitter was.

Later het sy ook as streeksvoorsitter gedien en meegewerk aan die skryf van ‘n boek vir ‘n VLU-feesviering.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button