Local news

Neels Hansen se reis met HOK en Prof Anna Neethling-Pohl

Coert Grobbelaar, seun van 'n oud-HOK student, onthou die ontwikkeling van oud-dosent Neels Hansen in die Suid-Afrikaanse kunste.

Die Heidelbergse Onderwyskollege (HOK) se oud-studente kyk terug op die geskiedenis van die kollege, wat tussen 1909 en 1967 onderwysers in die gebied opgelei het, voor die 60-jarige herdenking van sy sluiting.

Volgens Coert Grobbelaar, wie se ma aan die kollege studeer het, het HOK talle onderwysers opgelewer, maar ook mense wat later in die kunste uitgeblink het.

Een van die dosente was die operatenoor Dirk Lourens, wat later by die kollege doseer het. Grobbelaar weet van Lourens deur sy ma, wat by hom klas gekry het. Lourens het ook in die 1950-film Hier’s Ons Weer opgetree.

“Al waarom ek van hom kennis dra is omdat my moeder tydens haar studentejare by hom klas gehad het. Sy het graag vertel hoe hulle sy stories geniet het,” onthou Grobbelaar.

Professor Anna Neethling-Pohl. FOTO: Verskaf

’n Ander dosent wat ’n groot invloed op die Suid-Afrikaanse operawêreld gehad het, was Neels Hansen. Volgens die resensent Wouter de Wet het Hansen se werk dikwels aan genialiteit gegrens. Hy het as regisseur, verhoog- en kostuumontwerper gewerk.

Grobbelaar vertel dat Hansen een aand in sy woonstel in Sunnyside, Pretoria, vertel het van sy ontmoeting met prof Anna Neethling-Pohl, wat destyds hoof van die dramadepartement aan die Universiteit van Pretoria was.

Hansen, wat reeds as dramadosent gevestig was, is gevra om ’n operette by HOK aan te bied. Hy het egter eerder die musiekblyspel The Student Prince, in Afrikaans verwerk as Die Studenteprins, gekies. Die Afrikaanse verwerking is van Gideon Roos van die SAUK verkry.

Die openingsaand van die produksie Die Studenteprins het uitsonderlike eregaste gehad. FOTO: Verskaf

Die eerste repetisies het swak verloop, met onervare studente en Hansen wat self sy voete as regisseur moes vind.

Tydens een van die repetisies het prof Anna onverwags opgedaag. Sy het ’n student gevra wie vir die produksie verantwoordelik was. Toe sy hoor dit is Hansen, het sy hom laat roep.

“Sy het vir Hansen vertel dat die opvoering ’n totale gemors was,” sê Grobbelaar.

Hansen was platgeslaan, maar die openingsaand was uiteindelik ’n groot sukses. Onder die prominente gaste was prof Geoff Cronjé, hoof van die nuwe Deparement Dramatologie aan die Universiteit van Pretoria, Truida Louw, N.P. van Wyk Louw, Hermien Domisse, Taubie Kuschlick, Helena Strauss, Michal Grobbelaar en prof Anna Neethling-Pohl.

Kort daarna het Hansen ’n oproep van Cronjé ontvang om hom te kom sien. Prof Anna was ook daar en het hom vertel van ’n vakante lektoraat in die Departement Dramatologie.

Hansen was aanvanklik huiwerig om die pos te aanvaar omdat hy saam met Neethling-Pohl sou werk, maar is deur die akteur Francois Swart oortuig.

Kulturele gebeure is in die jaarblad vasgevang. FOTO: Verskaf.

Kort nadat hy die pos aanvaar het, het Neethling-Pohl hom na haar kantoor geroep. Sy het hom gevra of hy geld het. Toe hy sê hy het nie, het sy hom aangeraai om sy motor te verkoop.

Sy het aan hom verduidelik dat sy juis die potensiaal in hom raakgesien het toe hy die swak HOK-produksie in ’n suksesvolle vertoning omskep het. Volgens haar het hy Europese opleiding nodig gehad.

Hansen het sy motor verkoop, die HOK-rektor het R500 tot sy reis bygedra en sy ma het sy vliegtuigkaartjie betaal. Die res van die koste het Neethling-Pohl self gedra.

“Vir haar was dit ’n belegging wat inderdaad een van die grootste regisseurs, kostuumontwerpers en verhoogontwerpers in die geskiedenis van Suid-Afrika opgelewer het,” sê Grobbelaar.

Ná Hansen se Europese toer het Neethling-Pohl hom gevra of hy enige monumente van resensente gesien het. Toe hy nee antwoord, het sy hom aangeraai: “Onthou dit altyd.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button