Hoërskool John Vorster se hoofleiers deel hul stem oor Jeugdag, taal en toekomsdrome
John Vorster hoofleiers gesels oor sosiale media, taal en die krag van jong betrokkendheid.
Jeugdag word elke jaar op 16 Junie in Suid-Afrika gevier en fokus op die viering van die jeug se rol in die samelewing, met klem op herdenking en opvoeding.
Skole en gemeenskappe gebruik die geleentheid om belangrike gesprekke oor jeugontwikkeling aan te moedig.
Die Heraut het by twee jong leiers van Hoërskool John Vorster gaan hoor wat Jeugdag vir hulle beteken. Petri Stoltz, die hoofseun, en Tanah Ashton, die hoofdogter, het hul gedagtes gedeel.
Petri het gesê Jeugdag herinner hom aan die rol wat jongmense in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het, en hoe hulle steeds ’n verskil kan maak.
“Dit herinner ons aan die krag van jong mense om werklike verandering teweeg te bring. Ons het die vermoë om ander te inspireer om hul stemme te laat hoor — of dit nou deur sosiale media, skoolaktiwiteite of gemeenskapsprojekte is. Deur self betrokke te wees, kan ons ander motiveer om ook ’n positiewe impak in hul omgewings te maak,” het hy gesê.
Tanah het gesê Jeugdag laat haar dink aan die belangrikheid van geregtigheid en gelykheid in die samelewing, en die mag van jongmense om verandering te dryf.
“Ons kan platforms soos debatklubs, sosiale media en werkswinkels gebruik om jong stemme hoorbaar te maak. Deur self die voorbeeld te stel, positiewe projekte te begin en ander aan te moedig om saam te werk aan inisiatiewe wat werklik ’n verskil maak, inspireer ons die jeug om aksie te neem,” het sy gesê.
Die twee leiers het ook gesels oor jongmense se aktiwiteit op sosiale media, wat volgens hulle nie altyd ’n negatiewe invloed hoef te hê nie. By Hoërskool John Vorster word tegnologie op positiewe maniere aangewend.
Tanah en Petri het verduidelik dat die onderhoofleiers verantwoordelik is vir die skool se bemarking, insluitend die skep van foto’s en video’s vir sosiale media, wat nie net die skool bevorder nie, maar ook wys hoe tegnologie verantwoordelik gebruik kan word.
Met die viering van Afrikaans se eeufees, het hulle met trots oor taal gepraat.
Petri het vertel dat hy as kind sy tale gemeng het, maar toe hy besef sy oupa verstaan hom nie, het hy besluit om sy Afrikaans te verbeter. “Ek is nou baie trots daarop,” het hy gesê. Sy gunsteling Afrikaanse uitdrukking is “Kom hier, my seun”, iets wat hy en sy tweelingsussie gebruik om mekaar se aandag te trek.
Tanah, wat uit ’n Engelssprekende huis kom en in ’n Engelse laerskool was, sê sy is trots daarop om vlot in beide tale te wees. “Dit is ’n groot voorreg,” het sy gesê. Haar gunsteling Afrikaanse woord is “skokbeentjie” — volgens haar kan dit net met ’n suiwer Afrikaanse aksent reg klink.
Toe hulle gevra is wie hulle bewonder, het Petri, ’n uitmuntende sportman en hoogspringkampioen, gesê sy held is Springbok-rugbyspeler Eben Etzebeth, wat altyd by sy waardes bly en koers hou. Tanah het haar ma as haar held genoem.
“Sy is my grootste ondersteuner en motivering. Sy help my glo dat ek genoeg is. Sy is ’n sterk, waardige vrou, en ek is trots om haar my ma te noem.”
Albei sien uit na die wintervakansie, maar besef die eindeksamens lê voor sodra die skool hervat.
Die nalatenskap wat hulle by die skool wil los, is ’n boodskap aan elke leerder:
“Wees trots op wie jy is. Wees trots op jou taal. Praat in jou taal. Gaan die toekoms in met selfvertroue en staan vas in jou woorde. Bly glo in geregtigheid.”



