Lag ‘n slag met Gert van Niekerk se “Hier oubaas se honne”
Gert van Niekerk, ‘n inwoner van Centurion het die volgende staaltjie onlangs op sosiale netwerk vertel. Sit agteroor, ontspan en maak gereed vir lekker lag....

Wanneer het julle iets van ʼn Chinaman by ʼn vlooimark gekoop?
Laas Saterdag oggend het ek iets by die vlooimark gesien wat my belangstelling geprikkel het. Daar en dan het ek besluit om vroulief met ‘n nuwe “gadget” te verras – ‘n 100 000 volt, handsak-grootte tazer of skokstok. Tog te oulik met die dat dit soos ʼn lipstiffiehouer vol blinkertjies lyk, totaal skadeloos.
Die effekte van die tazer was aldus die gebrekkige Engels van die Chinaman, veronderstel om van korte duur te wees, met geen langtermyn effek op die aanvaller nie – net genoeg tyd om jou toe te laat om na veiligheid te vlug. Glo is dit dan die antwoord op misdaad situasies in huishoudings en ʼn moet vir elke vrou.
Chinaman se verkooptegniek en die simpel prys het my dadelik oorreed en ek koop ewe tong in die kies die “made in China gadget” en dink, dalk kom ek in die Blond se goeie boekies. By die huis maak ek die boksie oop en sien daar is sowaar twee “AAA” batterye ingesluit. 100 000 volt se agterent dink ek, maar laai tog die batterye en druk die knoppie……. en niks. Die ding maak nie ʼn geluid nie.
Blerrie teleurgesteld en half onwillig om te glo dat ek verneuk is, lees ek toe die papiertjie met die fyngedrukte Engelse instruksies daarop.
So leer ek eerstens dat wanneer jy die ding teen ‘n metaal oppervlak hou en die knoppie druk, maak dit ‘n blou “spark” tussen die penne. Fantasties, kom ons probeer. Sal later aan die Blond verduidelik waar die brandkolle op die yskas se deur vandaan kom. Ek besef toe dié ding het lewe in hom.
So sit ek alleen by die huis met die Maltees langs my op die bank en wag dat die Blond van die dorp af kom. In plaas daarvan om die “gadget” te loop bêre, begin my nuuskierigheid die oorhand kry en so bestudeer ek die oulike speelding. Ek is ek vas oortuig die ding kan sekerlik nie so erg skok nie. Ek meen, 100 000 volt is immers weerlig se baas en inaggenome dat ‘n hele huishouding 220 volt gebruik, begin ek twyfel. Dit kan mos net ʼn lieg wees, want hoe erg kan mens nou op twee “AAA” batterytjies skok?
Die twyfel groei en soos ek hierbo genoem het, die Maltees lê opgekrul langs my op die leuning terwyl ek die aanwysings verder bestudeer. Ek begin later dink dat ek regtig die ding eers op ‘n objek van vlees (26% bloed en bewegende teiken) moet uittoets. Ek meen, ‘n mens moet tog weet of dit ʼn pot strooi is of nie. Ek moet erken ek het oorweeg om die Maltees vir ‘n fraksie van ‘n sekonde by te dam en uit sy salige droomwêreld te ontwaak, maar gelukkig het ek van plan verander, want hy is so ʼn liefdevolle hond en soos meeste van julle reeds weet, die hel het geen gelyke soos ‘n omgekrapte poedel nie of moerige Blond wie se hond aanstoot gekry het nie.
Ek was egter vasberade om ten minste versekering te kry dat die ding my vrou teen ‘n aanvaller sal beskerm, soos dit geadverteer word. Ek wil haar immers nie vals hoop gee nie, want wat as sy dit regtig nodig kry en dit kielie net die aanvaller? Ek sal myself mos nooit vergewe nie, nie waar nie?
Nou ja, daar sit ek toe in my kortbroek en Blou Bul ondersteunerstrui, leesbril delikaat op die brug van my neus, aanwysings in een hand, en skokstok in die ander. Die aanwysings, alhoewel in Engels en seker maar Mandaryn lees: een sekonde blast sal jou aanvaller skok en disoriënteer; twee sekonde blast is veronderstel om spierspasmas en ‘n totale verlies van liggaamlike beweging aan te bring en drie sekondes sal veroorsaak dat die aanvaller inmekaar sak soos ‘n vis uit water. Enige blast langer as drie sekondes sou ‘n mors van batterykrag wees.
Met al die inligting kyk ek na die klein apparaat van omtrent vyf duim in lengte en driekwartduim in omtrek – regtig te oulik en tog net gelaai met twee klein ou AAA batterye. Ek dink by myself daar is geen flippin manier dat die ding wat soos lipstiffie lyk, enige noemenswaardige skade aan ʼn groot, uitgevrete man soos ek nie kan aanrig nie. 100 000 volt se &%#*&, dit is net ʼn geldmaakstorie besluit ek. Ek sal self “check” of die dingetjie so rof is soos hulle vertel.
Wat volgende gebeur het is moeilik om te beskryf, maar laat ek probeer met dit wat ek kan onthou.
Ek sit daar alleen. Maltees het intussen van my gewoellery wakker geword en bekyk my met sy kop na eenkant gedraai aan, asof om te sê, “Moet dit nie doen nie”.
Ek is mos nie ʼn banggat nie en redeneer toe dat ‘n een sekonde bars van so die klein dingetjie nooit so so erg kan wees nie en so haak ek die penne stewig teen my naakte pensvel van en druk die knoppie……
“Moeder, wapens van massa vernietiging, k@k op ‘n stok, f@%26$ my George, ouma se hare en hond se antie!”
Ek is seker die hele Blou Bul skrum het op my neergestort. Jan Wilkens het my daar opgetel en my weer en weer op die mat neergegooi en toe net vir die pret, die Lazyboy op my kop gegooi.
Ek kan vaagweg herroep hoe ek in die fetale posisie wakker geword het – ore wat sing soos die Drakensberg seunskoor, trane in my oë, kouekoors golwe wat op en af soos hoogwater deur my trek, my liggaam deurnat met iets wat ruik soos piepie, albei my tepels wat brand soos vuur, sooibrandsmaak in my bek, en twee tennisballe wat sit waar my mangels veronderstel is om te wees. Ek sukkel soos ʼn beskonkene met my linker arm onder my liggaam ingedruk in die snaakste posisie, en naalde en spelde in my bene.
Daar waar die Maltees gelê het is nou net ʼn groot bol hondebol. Ek wonder hoe die Maltees dit reggekry het om ʼn tweede streep te maak van waar die stoel staan, teen die gordyne op, ’n streep oor die plafon en af teen die oorkantste muur en tot hier waar ek myself bevind.
Asseblief, luister na die raad wat ek uit dure ondervinding geleer het – daar is geen sodanige ding as ‘n een sekonde blast wanneer jy jouself zap nie!!!!. Jy sal nie die verdomde ding kan los tot dit nie uit jou hand uitgeruk word deur ‘n helse slag nie. Daai een sekonde word blitsig ʼn moerse lang sekonde.
‘n Minuut of so later (ek kan nie seker wees nie, tyd was ‘n relatiewe ding op daardie punt), het ek my verstand gekollekteer (die bietjie wat oor was), regop gesit en die wêreld verwese bekyk.
My gebuigde bril het miserabel op die gordynkap gehang. Hoe de moer het dit daar gekom? My triceps, regter dy en beide tepels was steeds teer. My gesig het gevoel asof ek ‘n komby klap van ʼn nightclub bouncer gekry het, en my kaak het lusteloos gehang asof my onderlip ʼn honderd kilogram geweeg het terwyl my my bek geweier het om op te hou kwyl.
Praat was hopeloos en die onsinnige gebrabbel wat ek kon uiter het my ʼn kandidaat vir Groendakkies gemaak. Terloops, teen die tyd het ek besef dat ek ook van onderklere sal moet verwissel.
Heelwat later en steeds natgesweet soos ʼn malaria pasiënt en met ʼn blaas wat drup soos ʼn koshuis geyser het ek myself stuk-stuk opgetel en bymekaar gekraap.
Flippen hel en dit van twee “AAA” batterytjies – so nimmer as te nooit weer nie. So, indien jy ooit genoodsaak voel om jouself te wil “mug” met ‘n tazer om hom dit te toets, neem my advies en herhaal hierdie sin: “Hier Oubaas se honne….”



