Lusanti Brundyn, graad 11-leerder van EHS speel reeds van 8-jarige ouderdom die viool.
Sy spog met ’n Eistedfod-driekuns waar sy sedert 2014 eersteplek behaal het en is in 2016 aangewys as die kategoriewenner in twee verskillende kategorieë.
Vir drie-opeenvolgende-jare het sy die Hoërskool-Innibosprestasiebeurs, wat kontantpryse behels, ontvang.
In 2015 het Lusanti goud in die Philip H. Moore-musiekkompetisie in Johannesburg verower en slaag in dieselfde jaar haar graad 5 Unisa-eksamen met lof.
In 2016 slaag sy haar graad 8 Royal Schools-viooleksamen ook met lof.
Lusanti is al vyf jaar lid van die Simfonia Juventi Jeugorkes, en is dié jaar gekies om as solis saam met die orkes op te tree.
Na ‘n opwindende, maar uitdagende oefenweek tydens die April vakansie in Pretoria, tree die Simfonia Juventi twee naweke in Mei op, onderskeidelik in Heidelberg en Naboomspruit. Die gala-konsertvind om 3 Junie in Pretoria plaas.
Lusanti sê dat haar grootste uitdaging is om genoeg kwaliteit tyd in te ruim om haar musiek te oefen.
“Ek sal graag, wanneer ek tyd het, ‘n tweede instrument, soos die tjello, wil bemeester.”
Vir 2017 het sy self ‘n paar planne: “Ek beplan om later vanjaar my graad 6 Unisateorie-eksamen te skryf en graad 8 Unisa viooleksamen te speel. Ek wil ook baie graag hierdie jaar in Suid-Afrika se Nasionale Jeugorkes speel.”