CrimeNews

Stil, saggeaarde Hantie in haar huis op plaas vermoor

“Sy was ’n saggeaarde introvert wat nie haar persoonlike lewe met ander bespreek het nie en kon nie ’n vlieg seermaak nie," het me. Salome Geldenhuys, voormalige kollega, gesê.

Me. Hantie van der Vyfer (72) is in die nagtelike ure van Maandag, 26 Februarie in haar huis vermoor.

Nadat sy Dinsdgoggend nie die radiotoets geantwoord het nie, het die plaaswag gaan ondersoek instel en haar dood in haar huis aangetref.

Haar bakkie, selfoon en verskeie elektroniese toerusting is gebuit en die bakkie is later, verlate, in die Tjakastad-omgewing gevind.

Hantie het haar skoolloopbaan op Delmas, waar albei haar ouers onderwysers was, voltooi en was hoofmeisie van Hoërskool Delmas.

Me. Drini Jacob, ’n skoolvriendin, het gesê dat sy ’n harde werker en pligsgetrou was.

Lees ook: Dewald Mareé op pad na herstel

Na skool het sy aptekerswese aan die Universiteit van Potchefstroom studeer.

Mnr. Dirk Koch wat saam met haar op universiteit was en wat ook baie jare haar werkgewer was, het net mooi dinge oor haar te sê gehad.

“Sy het geen vyande gehad nie en het gelykmatig deur die lewe gegaan.

“Sy was vir meer as 40 jaar in die aptekerswese en ’n goeie apteker en sakevrou wat altyd raad vir klante gehad het.

“Sy was baie lief vir haar kinders en het hulle altyd so naby as moontlik aan haar gehou.

“Hantie het nooit gekla of haar stem verhef nie en het net op ’n stil, rustige manier haar gang gegaan.

Hantie, ’n nooi Joubert was met Theuns van der Vyfer getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore.

Sy het ook vier kleinkinders gehad.

Theuns is sowat twee jaar gelede dood en Hantie het alleen op die plaas Welgelegen agtergebly.

Hantie het hom goed versorg tydens sy stryd met kanker en was altyd aan sy sy.

Haar dogter het gesê dat dit vir haar ma, toe hulle klein was, so belangrik was om naby haar kinders te wees dat sy haar eie apteek geopen het.

Eers het sy die de Bruyn Apteek gehad en later Unimed.

Haar dogter het bygevoeg dat sy hulle streng grootgemaak het sonder om ooit kwaai te wees.

“Ons het soveel respek vir haar gehad dat ons nooit dinge sou doen wat dit nodig gemaak het om kwaad te raak nie.

“My ma het op ’n sagte, rustige manier respek afgedwing.”

Toe haar kinders uit die nes uit was, het sy weer vir ander apteke, onder ander Berry’s Apteek waar sy vir lank werksaam was, begin werk.

Hantie was afgetree, maar het steeds by tye by apteke gelocum.

“Sy was ’n saggeaarde introvert wat nie haar persoonlike lewe met ander bespreek het nie en kon nie ’n vlieg seermaak nie,” het me. Salome Geldenhuys, voormalige kollega, gesê.

By navraag het mnr. Hennie Bekker, voorsitter van Afriforum, gesê dat plaasmoorde teenoor verlede jaar dié tyd afgeneem het, maar plaasaanvalle het toegeneem.

Vir Februarie tot en met vandag was daar 90 aanvalle en 13 moorde.

Dit bly egter, volgens hom, ’n kommerwekkende situasie.

Me. Celia Beukes, lid van die Genesaret Plaaswag het gesê die mense besef nie die impak van die sinnelose moorde op die ekonomie nie.

Elke keer as daar ’n plaasmoord gepleeg word, sit mense sonder werk.

Sy het ’n beroep gedoen op elkeen wat op ’n plaas bly om in te skakel by die plaaslike veiligheidstrukture en het Genesaret en almal in die gemeenskap bedank vir hul samewerking en ondersteuning.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button