Crime

Twee mans gevonnis vir moord op Ermelo-boer Jannie Weideman

Twee mans is tot effektiewe gevangenisstraf van onderskeidelik 25 en 23 jaar gevonnis vir die moord op die boer, Jannie Weideman, tydens ’n plaasaanval in Ermelo in Desember 2023.

ERMELO – Twee mans is op 22 Oktober tot effektiewe gevangenisstraf van onderskeidelik 25 en 23 jaar gevonnis vir die moord op die boer, Jannie Weideman, tydens ’n plaasaanval op Roodepoort-plaas in Ermelo in Desember 2023.

Die hof het gehoor dat die aanval omstreeks 22:00 op 21 Desember 2023 plaasgevind het.

Sy vrou was glo ten tye van die voorval op Middelburg nadat sy vroeër dorp toe is.

Sy het die bure gebel en hulle gevra om ondersoek in te stel nadat haar man nie op enige van haar oproepe of boodskappe gereageer het nie.

Ermelo-polisielede is na die plaas ontbied. Met hul aankoms was lede van ACSU sekuriteitsmaatskappy reeds op die toneel.

Die polisie het die huis binnegegaan en die boer met verskeie skiet- en steekwonde gevind.

Verskeie leë 9 mm-patroondoppies is op die toneel gevind. Nooddienste het hom op die toneel dood verklaar.

’n Rooi Toyota Hilux, vuurwapens, ammunisie en juweliersware is tydens die aanval gesteel.

Die gesteelde voertuig is later verlate in Breyten gevind.

Twee beskuldigdes kry tronkstraf

Volgens Luitenant-kolonel Jabu Ndubane, provinsiale woordvoerder vir die polisie, is vier mans in Januarie 2024 in Ermelo in hegtenis geneem.

Mbongeni Walter Nkosi is tot 20 jaar tronkstraf vir moord en 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis.

Die hof het beveel dat vyf jaar van die roofvonnis met die moordvonnis saamloop.

Hy sal dus ’n effektiewe tronkstraf van 25 jaar uitdien.

Mbongeni Walter Nkosi. Foto | Verskaf/DCSSL

Mxolisi Sibusiso Mnisi is tot 20 jaar tronkstraf vir moord gevonnis, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie gedurende die opskortingstydperk aan ’n geweldsmisdaad skuldig bevind word nie.

Sy effektiewe vonnis vir moord beloop dus 18 jaar.

Hy is ook tot agt jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede gevonnis.

Die hof het beveel dat drie jaar van dié vonnis met die moordvonnis saamloop, wat sy effektiewe tronkstraf op 23 jaar te staan bring.

Mxolisi Sibusiso Mnisi. Foto | Verskaf/DCSSL

Derde beskuldigde se verhoor in 2028

Die saak teen Bongani Khoza is tot 20 November 2028 uitgestel vir verhoor in die Mpumalanga-afdeling van die Hooggeregshof, wat in Breyten sal sit.

Die vierde persoon is ingevolge artikel 204 van die Strafproseswet van vervolging gevrywaar.

Sy naam word daarom nie bekend gemaak nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button