Banele Sihlali is op Dinsdag, 5 Junie in die rondgaande hof op Breyten tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op me. Issie Dippenaar.
Hy het me. Dippenaar op 21 November 2016 in haar huis op Ermelo vermoor.
Hy is ook skuldig bevind op die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer op Kenneth Mashego, die tuinwerker wat in sy plek aangestel is nadat me. Dippenaar hom afgedank het, en ’n klag van bedrog.
Geld is op die aand van haar dood uit me. Dippenaar se bankrekening onttrek en haar bankkaart is in sy besit gevind. Mashego is op 10 November deur ’n man, vermoedelik Sihlali, op me. Dippenaar se erf met ’n skroewedraaier aangeval.
Die aand van die moord het ’n buurman van me. Dippenaar, mnr. Abraham Kriel, onraad vermoed toe hy gesien het dat daar ligte in haar huis gebrand het en vermoed het dat sy tuis moes wees. Haar ma het hom vroeër geskakel en gesê dat sy bekommerd is omdat me. Dippenaar nie haar selfoon antwoord nie.
Lees ook: No bail for Issie Dippenaar’s accused murderer – Sihlalis day in court,
Hy en sy seun het oorgestap en hy het deur die venster ’n man in die kombuis sien rondloop. Dié man het by die huis se agterdeur uitgehardloop.
Mnr. Kruger het die hulp van ’n sekutriteitsmaatskappy ontbied en die huis is deursoek.
Me. Dippenaar se liggaam is later in die kattebak van haar motor gevind. Sy het ’n koord om haar nek gehad.
Die Hoëvelder het op 25 November berig dat me. Dippenaar die aand van haar dood vir die eerste keer in sowat twee weke weer by haar eie huis geslaap het nadat die alarm van haar huis dié dag opgradeer is. Sy was versigtig ná die voorval op 10 November.
Me. Dippenaar was vir bykans 15 jaar by die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) betrokke en het ’n sleutelrol in maatskaplike dienste op Ermelo gespeel.
Sy het in 2008 die eerste kinderhuis op die dorp begin waar haar goeie werk steeds voortgesit word.
Mense wat haar geken en saam met haar gewerk het, was dit eens dat die leemte wat haar dood in die gemeenskap gelaat het nie sommer gevul sal word nie, maar dat dit ’n troos is dat geregtigheid geskied het.



