’n Hyno 300 vragmotor is Dinsdagmiddag, 13 November sowat 5nm op die Ermelo- / Bethalpad gekaap.
Volgens Kapt Carla Prinsloo, woordvoerder vir Ermelo Polisie, was die bestuurder van die vragmotor en sy broer vanaf Johannesburg oppad na Mkondo (Piet Retief), toe hulle deur vier mans in ’n wit Golf met blou ligte voorgekeer is.
Twee van die mans het voorgegee dat hulle verkeersbeamptes is en gevra om die bestuurder se lisensie te sien. Die mans het ook polisie univorms gedra.
“Daar is vuurwapens op die insittendes gerig en hulle is agter in die die vragmotor ingedwing, waarna daar met hulle weggery is.” het Kapt Prinsloo gesê.
Die klaer en sy broer is by Douglasdam afgelaai, waarna die verdagtes met die vragmotor weggery het.
Die broers het die saak by Ermelo Polisie aangemeld, waarna die opsporings-apparaat in die vragmotor geaktiveer is en die verlate vragmotor is sowat 7.45nm in Burgerstraat opgespoor.
Die goedere in die vragmotor was reeds gesteel.
In samewerking met die eienaar en die onderneming wat die opsporings-apparaat geinstalleer het, het die polisie later die aand die vier verdagte mans in Sluiterstraat opgespoor waar hul die gesteelde goedere in ander voertuie oorpak.
Die mans is gearresteer.




