Klagtes oor die plaaslike lisensiekantoor het die afgelope week by die Hoëvelder ingestroom.
Inwoners het gekla dat hulle weke lank sukkel om suksesvol aansoek te doen om hul bestuurderslisensie te hernu.
Volgens een van die inwoners, het hy reeds in Augustus aansoek gedoen vir die hernuwing van sy lisensie en moet vandag nog met ‘n lisensie rondry wat reeds verval het.
“Om te voorkom dat ek enige boetes kry, ry ek nou met die bewys van betaling
rond,” het die inwoner, wat anoniem wil bly, gesê.
Hy het die personeel by dié kantore as onbeskof en onbehulpsaam beskryf.
Een van die klagtes was dat die stelsels by die kantore gereeld van lyn af is en oogtoetse kan nie gedoen word nie.
Die Hoëvelder het navraag by Msukaligwa Munisipaliteit gedoen en mnr. Mandla Zwane, woordvoerder, het verskoning aan alle inwoners vir die ongerief aangebied.
“Ek kan bevestig dat ons ‘n paar uitdagings gehad het met die diensverskaffer wat die bestuurderslisensiekaarte druk, wat die vertraging van die aflewering van die kaarte tot gevolg gehad het.
“Die uitdagings is egter opgelos en die bestuurderslisensiekaarte is nou by die lisensiekantoor beskikbaar.”
Hy het bygevoeg dat die e-Natis-stelsel slegs vir twee dae van lyn af was en nou ten volle werk. Mnr. Zwane het gesê dat die kantoor ook ‘n probleem ervaar het met die oogtoetsmasjiene, wat vir drie weke buite werking was.
Motoriste word aangeraai om nie te wag vir die 21 dae grasietydperk om te verval nie, maar om dadelik hulle voertuiglisensies te hernu sodra dit verstryk het.
Indien inwoners klagtes het rakende die personeel, het hy verduidelik dat die klaer eerstens die klag by die voorste dienspersoneel moet aangee om die saak dadelik op te los, waarna die klag ook by die hoof lisensiëringsbeampte aangegee kan word.
Hy het bygevoeg dat wanneer inwoners ‘n klag indien, moet hulle die naam van die werknemer insluit om die probleem spoedig op te los.
“Msukaligwa Munisipaliteit onderskryf die beginsel van Batho Pele, People’s First,” het hy afgesluit.